In 2007, ten spyte van ons vorige beloftes aan onsself, het ons so bietjie uitgemis op die jaarlikse sneeuvalle. Ek kan ook nie eers onthou dat daar eintlik enige noemenswaardige sneeuvalle daardie jaar was nie, en die knypende finansies het ons geforseer om tuis te oorwinter. In 2008 het ons net besluit – kom wat wil, ons soek sneeu. Ek het vroegtydig in die jaar op die web begin rondsnuffel en per toeval afgekom op “Tulloch Cottage”, reg in Barkley pas – “ground zero” soos hulle sê.

Reg van die webwerf af.
Die foto’s het baie mooi gelyk, maar mens kan mos nog steeds nie ‘n lekker gevoel vir ‘n plek kry van net ‘n paar foto’s nie. Nietemin, ek het maar blindelings voorlopige besprekings gemaak by Ben en Riëtte Vorster, van Oos London nogal, en ons het opgewonde die tyd afgewag vir winter om aan te breek. Uiteindelik, rondom middel-Julie, pak en vertrek ons.
Hierdie keer, na Queenstown, het ek vir die Irishman geluister en darem nie weer die verkeerde afdraaie geneem nie en ons is deur Dordrecht na Elliott toe. Rondom Dordrecht kon ons juis al die sneeu sien blink op die pieke in die oggend se son en die afwagting was tasbaar. Ons het gestop op Elliott vir proviand en steenkool, en kort daarna die pas uitgestorm. Dit het behoorlik gevoel of ons weer ‘n ou vriend teekom na baie jare, en sommer binnekort was ons by Tulloch se hek. Sommer so met die intrapslag kry ons ons eerste sneeu in die holtes en skaduwees, en moes natuurlik net daar stop vir die eerste foto-geleenthede en vieringe.

Dis maar min, maar dis daar!
Die kort stukkie grondpad na die huis was verby skaap- en perdekrale, en Megan was amper histeries – sy is mos stapelgek oor perde.

Eenvoudige sandsteen gerief.
Die oomblik van ons aankoms het ons besef dat ons met ons blindelingse bespreking ‘n ware juweel raakgeloop het. Die huis was solied gebou uit sandsteen blokke, byna ‘n meter dik teen die koue, met die hoë daknokke kenmerkend van die area. Parkering was reg langs die huis, onderdak, met ‘n toegeboude braai en kuierplek daarlangs.

Gesellige kuierplek
Die eerste ding wat mens opmerk as jy by die huis se voordeur instap, is die pure gesellige atmosfeer. ‘n Eetkamerstel van rottang was in kuier-afstand van die Jetmaster en gerieflik naby die oop-plan kombuisie.

Welkom! Kom sit. Wat drink jy?
Langsaan was ‘n snoesige sitkamer met koolstoof verwarmer en skottel – tot my misnoë (ek het al klaar gesien hoe ek sou sukkel om die kinders uit die huis te kry!).

Pure gemak.

Die een vanuit die sitkamer.
Slaapgeriewe bestaan uit twee kamers met twee enkelbeddens elk, en ‘n hoofslaapkamer met dubbelbed.

Perfek vir 'n klein Engel!

Kom ons spring in die bed! (Wow, het ek regtig dit gesê?)
Al die vensterbanke was breed genoeg vir ‘n lekker panoramiese sitplek om met koppie stomende koffie gewapen te sit en kyk hoe die weer oor die Stormberge saampak.

Engel 2, perfekte "pose"...
Die opsigter en sy familie het gasvryheid uitgestraal en daar was elke oggend nog gekapte hout om die Jetmaster aan te jaag. Die Engele het tot ‘n seldsame geleentheid geniet om die wêreld te bekyk van ‘n perd se rug. Vir Megan was die hele uitstappie al klaar die moeite werd – ons kon toe al terugkeer huistoe, want sy was in die hemel!

Engel 1: "Woohooo! Look dad, no hands!"

Engel 2: "I could just like... die now, you know?"
Dit was natuurlik selfsorg – soos ons dit verkies – en ek wou nie brood saam karwy vir die vyf dae wat ons daar sou deurbring nie, dit raak mos gou hard en oud in daardie koue. Ek bak toe ons eie brood elke dag, met gepaardgaande mannewales en kinders deur die huis jaag met deeg-hande.

The abominable dough-man. Scary man, scary...

Samurai broodbakker, lekker vol soetwyn...
Geurige stomende vars brood met ‘n homp botter oor gesmelt, toegepak onder die heuning. Wat is dan lekkerder?
Die omgewing daar is asemrowend, en ons het gereeld in stapskoene, dik jaste en wolmusse die hele plaas verken en ons skoon vergaap aan die natuurskoon. In die kransmure oorkant die vallei kon ons tot groot grotte uitmaak.

Groen, groen land van... Tulloch!
Troppe skape het soos bergbokke teen die steil hange gewei en akrobaties van klip tot klip gespring. Die weer het telkemaal opgesteek en gedreig – ek het nog nooit so snerpende wind beleef nie – en ons het ‘n paar kapok-uitslae gehad, maar ongelukkig nie die digte winter-valle wat ek vir die Engele vir daardie week bestel het nie. Ons het nietemin daagliks hoër op in die berge gery en op genoeg sneeu afgekom om ons maande te hou.

Pasop, hier kom hy!

Die mislukte igloe, en die slapende skones...

Dis nie 'n glimlag nie, ek grynslag van die koue!

Vars sneeu het ander gebruike ook, jy weet?
Na ‘n absoluut onvergeetlike vyf dae van sneeu, kaggelvuur-kuiertjies, moeder natuur indrink en net behoorlik rus, het ons met heimwee gegroet en die lang pad terug getakel.

Die afskeid-sneeuman op die enjinkap.
Totsiens Tulloch, ons sien jou weer volgende jaar!
Besef jy dat jy ‘n wonderlike gawe met woorde het!
Al ooit gedink daaraan om ‘n boek te skryf? Nie wetenskap fiksie nie maar iets moois, antiek, sags – uit die verre verlede soos die mistige prentjie bo-aan “Dion se Gedagtes” iets wat die natuur beskryf of insluit of kinder of jeugverhale. Daar is so min kinderstories wat kinders dromerig laat. Weg van al die ruimte monsters en super helde. Selfs reisverhale – met jou verbeelding en die inligting wat deesdae op die web beskikbaar is, sal jy jouself en iemand anders kan laat glo dat jy dit self beleef het! Daar is soveel mense wat dit nooit sal kan bekostig om ander lande te besoek nie en dit graag deur ‘n ander se oë wil sien. Dalk nog ‘n ekstra inkomstetjie!
Wonderlike wintervakansies wat julle het – lyk net vreeslik koud!
Ivory
Ek’s bly jy het jou pad gevind hiernatoe. Ek skryf mos al van kleins af – ooraktiewe verbeelding! Op ‘n ernstiger noot, dis een van my drome; gee als op en begin om my hartstogte en verbeeldingstogte op skrif te verewig, maar wie kan deesdae net als los? Ek is wel besig om te werk aan iets vir kinders – twee verhale, een oor avonture langs die Nahoon-rivier hier by ons in engels, en een in die sneeu-valleie van Rhodes of Tulloch wat in afrikaans sal wees. Dankie vir die inligting oor publikasie-moontlikhede. Ek hoop om binnekort daarvan gebruik te maak! Jy sal beslis ‘n proefleser wees.