Exporters From Japan
Wholesale exporters from Japan   Company Established 1983
CARVIEW
Select Language

Op ons laaste seevakansie het ons dit begin sê. Witbrood.  Soos die gesegde – kla met ‘n wit brood onder die arm? As die kinders gekla het oor ons vakansiehuisie wat nie ‘n swembad gehad het nie.  Witbrood, julle is op ‘n seevakansie.  Of as daar hanglip was oor hulle nie ‘n opblaas flamink het om in die lagoon mee te kan speel nie. Witbrood, julle het nuwe bikini’s en handdoeke. Die koffie winkel het nie die bessie kaaskoek nie.  Witbrood, julle sit in ‘n restaurant. 

Tans voel dit vir my of ek ‘n groot bord om my nek moet hang wat lees Witbrood.  In Engeland is ons weer in die middel van ‘n inperking.  En vader weet, dit voel of dit net nie ophou nie.  Ek is gatvol vir mense wat sê die einde is naby en daar is lig aan die einde van die tonnel en binnekort gaan dit ons 40’somethings wees om inentings te kry.  Ja ek weet al hierdie dinge! Maar dammit, dit help my nie nou nie!

Sedert 19 Desember is ons weer terug in ‘n “bubble”.   Engel (15) en Japsnoet (12) is heeldag in die huis agter rekenaars met deurmekaar (maar skoon!) poniesterte en sweetpak broeke aan.  Tieners het begin om die virus te kry en dit oorgedra aan onderwysers en hulle huismense. Die skole het dus toe nie 6 Januarie oopgemaak soos die kalender dit bepaal het nie. . Daar is nie groot haas om in die oggend uit die bed te spring nie, jy moet net seker maak dat jy teen tien voor 9, aangetrek, voor jou rekenaar sit.  Die skooldag begin met registrasie aanlyn om seker te maak almal is reg vir hulle skooldag voor die rekenaar.  Die gimnasiums is toe, so Engel se swem het tot ‘n halt gekom.  Selfs buite sport is gekanselleer so daar is geen hokkie oefeninge of hokkiewedstryde meer vir my twee nie.  En Japsnoet se weeklikse balletklas is nou ook weer aanlyn.

Daar is tye wat die inperking, en wat daarmee saamgaan, my meer affekteer.  Sommige dae is ek byvoorbeeld heel tevrede om die dag binneshuis te te spandeer. Ek het ‘n helder pienk laaikas in skakerings van grys geverf en ek is besig om vir my pa ‘n fotoboek te maak vir sy 70ste verjaarsdag.  Dit hou my gedagtes weg van negatiewe goed af; wanneer my hande besig is, sluit my brein af.  Maar die laaste twee weke vang die eentonigheid van elke dag my lelik.  Elke dag is…. presies…… dieselfde…… Word wakker, kyk na facebook op my foon, stort, maak koffie, kyk oggend tv, eet ontbyt, dink aan die maaltye wat vir die dag gemaak moet word, ensovoorts. Met tye kom sit die angstigheid swaar op my en dit voel of ‘n olifant op my bors sit. En ek sukkel dan, letterlik, om suurstof in my longe te kry.  Of ek voel soos ‘n voëljtie wat ingekluister is in ‘n te klein hokkie. Met tye wil ek die teatrale tantrum gooi van ‘n tweejarige peuter.  Met die beste bedoelings nooi vriendinne my om te gaan stap, want dis die enigste kontak wat ons mag hê met mekaar.   En dan voel ek ek wil, in hoofletters uitskree dat ek nie wil gaan stap nie! Ek wil vriende oornooi na ons huis toe, ek wil op en af stap in die biblioteek en die agterkante van boeke lees, ek wil ‘n tydskrif lees in ‘n koffiewinkel, ek wil vir ‘n naweek net ‘n ander dorp gaan verken!  Ek wil nie in die koue gaan stap wat my neus laat loop nie. Met ‘n wol mussie wat my kop laat jeuk en modder wat die onderkant van my jeans, wel, bemodder. Witbrood, jy is gelukkig om vriende te hê wat tyd met jou wil spandeer. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het die grootste respek vir die reëls en ons volg die riglyne.  En die staat het nie juis ‘n ander opsie gehad nie. “I do get it“. Maar sjoe, dis moeilik om ‘n lewe te leef wat so teen ons natuurlike gewoontes en instinkte is.  En ek wil skree as ek hoor mense praat van “die nuwe normaal”.  Want flip, daar is niks normaal hieraan nie!  Ek haat hierdie “nuwe normaal” waarvan almal praat asof dit nou maar net eenvoudig ons lot is.  Daar is ‘n masker, gel en handeroom in die kar, in my stapsak, in my handsak en spaar maskers wat hang by die voordeur.  Hoe de hel is dit normaal?  Ons kan nie ons vriende drukkies gee as hulle hartseer is nie, en die kinders kan nie maats oornooi nie.  Om uit ons roetines te breek, probeer ons saam nuwe resepte, ry na omliggende “villages” toe en gaan stap daar deur hulle strate, bespreek ‘n somer vakansie in Engeland in plaas van Griekeland, en koop nou al paaseiers vir April.

Witbrood……

]]> https://pixie1se1pad.wordpress.com/2021/02/10/dag-4101-4111-witbrood/feed/ 1 nadinecvanstaden