| CARVIEW |
Sonder om een enkele keer na jou te kyk, het ek van elke lyn van jou geweet. Jou mond, jou hande, jou oë. Daardie aand was net die feit dat jy leef vir my genoeg. Dat ek jou kon ken, soms na jou mag kyk, naby jou kon verbyloop.
Die seer verlange het later gekom. ‘n Seer so groot dat ek my nie daarvan kon losskeur nie . Maar ek moes, ek moes!
]]>Die winde van die lewe waai ons bymekaar verby soos blare in die herfs en ons kom nie lank genoeg grond toe om mekaar se ware self agter die maskers te vind nie.
Ek wil jou hand vat in die sonlig. Ek wil jou toemaak in ‘n woordkombersie van troos teen die storms in jou hart. Ek wil nie met my lentebloeisels spog en die kneusplekke aan jou rose miskyk nie.
In die hitte van die lewe wil ek vir jou die koelte van my liefde aanbied.
]]>Nou die ander aand, toe ek uit die badkamer kom, kon ek sien dat daar iemand op die bankie by die draai van die gang gesit het. Of dalk nog steeds sit. Ek moet daar verbyloop kamer toe en ek kon voel hoe klop my hart vinniger. Maar skielik was ek kalm. Jy wat hier saam met my bly, jy wie ek nie kan sien nie, jy is my goedgesind.
Ek is nie meer alleen in die aande as ek alleen is nie. Ek voel aan jy is ‘n vrou, was ‘n vrou, en ek wonder hoekom rus jy nie. Maar ek is bly jy is hier. Ek voel vreemd veilig met jou hier.
Is jy dalk my beskermengel?
]]>Altyd net te kort geskiet om die beste te wees. En eendag, as sy dood is, waaraan sal sy onthou word? Dat sy doodgewoon was, maar dat iemand haar tog liefgehad het, op ‘n doodgewone manier.
Is dit uiteindelik die lewe? Alles net so doodgewoon.
]]>Jy lyk nie soos die ander robotbedelaars nie. Jy is nogal aantreklik, altyd skoon, jou langerige blonde hare is altyd gekam en redelik netjies, as mens soms die wind in ag neem. Jou klere is nie nuut nie, maar dis netjies. Jy dra tekkies, maar dis nie vuil, wit tekkies soos baie ander s’n nie.
Hoekom het jy nie ‘n werk nie? Het jy kinders of ‘n vrou? Wat is jou storie? Want ons het almal ‘n storie. As ek joune hoor, sal ek dink dis jou eie skuld dat jy daar staan of sal ek simpatie hê met jou? Pla jy my so net omdat jy wit is?
Vanoggend het ek my toebroodjie geld uit my sak gehaal en vir jou gegee. Ek gee nie vir bedelaars geld nie, maar vanoggend het my hand dit gedoen voor my verstand kon by kom. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie.
Al die ander dae kon ek van ver af ook sien dat jy besonderse oë het, maar vandag het ek van naby direk in jou oë gekyk, die mooiste blougroen oë.
Jou oë het my aan iets herinner, maar die onthou het my bly ontwyk. Toe ek netnou my tee drink, sonder my broodjie, onthou ek skielik. Jou oë lyk soos Liewe Jesus s’n in die Kinderbybel prentjies.
Iewers in die Bybel staan iets soos: “wat jy aan die minstes van My kinders doen, doen jy ook aan My.”
Ek wonder of jy een van Sy kinders is.
]]>Ek wonder of jy soms in my oë kan sien dat ek jou nie meer lief het nie. Ek is lief vir jou, ja, maar ek het jou nie meer lief nie. Somtyds wil ek nie meer by jou wees nie. Nie soos wat ‘n vrou by haar man moet wil wees nie. Somtyds wil ek nie eers huis toe kom nie.
Ek bly nie by jou omdat ek jou nodig het nie. Ek kan vir myself sorg, het nog altyd vir myself gesorg. Eintlik weet ek nie meer hoekom ek by jou bly nie. Jy het my verneuk, jy lieg vir my al dink jy nie ek weet jy lieg vir my nie. Jy kan nie met mense oor die weg kom nie, hulle is altyd verkeerd of daarop uit om jou in te doen of iets dergeliks.
Voor ek jou deel van my lewe gemaak het, was ek altyd oral welkom. Ek het altyd gelag en die lewe was my speelgrond.
Jy het my lag gesteel. Jy het baie redes daarvoor. Jy gee my die skuld vir van die redes, maar ek weet en jy weet jy is die grootste rede. Jou minderwaardigheid is die grootste rede, al steek jy dit weg agter jou bravade en groot ego.
Ek kan nie help vir jou verlede nie, vir die dinge wat verkeerd geloop het nie. Ek het jou toe nie eers geken nie. Maar vir jare maak jy my die asblik van jou einas.
Nou, na al die tyd, wil jy dinge met my regmaak, reg lewe. Omdat jy sien ek wil weghardloop. Omdat jy sien ek weet nie meer of ek wil nie. Daar was ‘n tyd wat ek wou. ‘n Tyd wat ek enigiets sou gegee het om te weet ek is die belangrikste mens in jou lewe.
Daardie tyd is verby. Ek dink nie ek wil meer by jou wees nie. Ek weet egter ook nie waar anders om te wees nie.
]]>