| CARVIEW |
Bladsye
Top Posts
-
Onlangse Bydraes
Nuutste kommentaar
- Squiggy oor Vet kinders
- Adrie oor Wegloop (2)
- Lorna oor Terug na realiteit
- Pagoda32 oor Terug na realiteit
- Vlooi oor Lorna word in die beursie geruk.
Vrywaring
Onthou, Brinkenheim is 'n sepie. Geen gevolgtrekking kan gemaak word ten op sigte van die skrywer se mening omtrent sensitiewe onderwerpe nie.
Filed under: Episode
Nadia word volgende week 24 jaar oud. Vandat ek 10 jaar oud was, was ek maar net te dankbaar as my ma wel vir my ‘n geskenk gekoop het. Sy het tot haar dood wel elke jaar ‘n geskenk gekoop en dit was meestal een waarvan ek baie gehou het. Tog het ek nooit ‘n wishlist ingedien nie. My kinders is anders, met die uitsondering van Patroon. Brian en Nadia skimp en nie baie subtiel nie. Dit maak dit darem maklik om vir hulle iets te koop, anders as met Michelle.
Niks verskaf my groter vreugde as om in hulle versoeke te voldoen nie, maar die keer het ek my bedenkeninge. Nadia soek ‘n nose job. Wat ek met die grootste liefde sal gee, as daar iets fout was met haar neus. Sy het egter ‘n pragtige neus. Ek sou nog ‘n borsinplanting oorweeg het, die kind is mos so maer soos ‘n riet en bo is niks. Ek kan net nie die rede van ‘n nosejob insien nie.
Nadia dink weer dat sy baie goeie rede het. Dit is glo net wat sy nodig het om haar loopbaan te laat vlam vat. Mense sal glo meer van haar hou as sy mooier is. Kak storie. Nadia is beeldskoon, maar het jy al met ‘n kunstenaar probeer redeneer?
Ek soek nou die internet voos vir redes hoekom ek nie aan haar versoek moet voldoen nie. Ek kry baie redes, maar niks wat haar gaan oortuig nie. Dalk moet ek net my voet neersit. Dit is immers onnodig.
Filed under: Episode
Nadia en Anton het laat weet dat hulle verplig voel om Sondagmiddag by ons te kom eet. Dit moet ‘n groot verpligting gewees het as hulle gaan kom wanneer Brian en Michelle by die huis is. Vir die liewe vrede onthalwe het ek Michelle van die voorgenome kuier ingelig. Sy het haar oë gerol en ‘n paar snedige opmerkings gemaak. Ek twyfel sterk of die twee ooit om dieselfde vuur gaan sit.
Ons is Sondagoggend eers kerk toe gewees. Vir Brian is dit soos bad, iets wat jy moet doen. Hy skop nie daarteen nie, maar Michelle haat dit. Dit is net as Brian haar mooi vra dat sy haarself sal verwerdig om kerk toe te gaan. Dit is eintlik half ironies. Dit was juis sy wat Brian kerkvas gemaak het, maar na my ma se dood het die vingers nooit opgehou wys nie. Daar was nog altyd agter die hande geskinder en Michelle weier om dit te duld. Geen dreigement kon haar weer by die Sondagskool kry nie en die kerk sien sy baie selde. Sy is openlik onbeskof met omtrent almal, ek is eintlik bly dat sy niks wil weet nie.
Na die diens het ons in Pieter Nortje vasgeloop. Hy het eers tot in sy haarwortels gebloos, maar nietemin beleefd gegroet. Hy het duidelik ook iets vir Michelle gevoel, sy was nie net ‘n terloopse flirtasie nie. Michelle het hom half-nors aan Brian voorgestel. My hart het in my skoene geval. Michelle sal die pakslae van haar lewe kry as sy ook te goed vir Brian raak om ‘n man te beindruk.
Pieter het my egter verras. Mense het gewoonlik die half verwaarde, dom uitdrukkings op hulle gesig as hulle die eerste keer van Brian kennis neem. Hulle sal hom ook vermy en bo-oor sy kop met hom gesels. Pieter het egter joviaal sy hand geskud en ‘n geselsie met hom aangeknoop. Ek het die blye verrassing in Michelle se oë gesien, wat vinnig agter ‘n ysgordyn verberg is. Duidelik was sy half vies vir Pieter, maar hy het een van haar toetse geslaag.
Ek is nie seker wat my besiel het nie, maar ek het hom vir middagete genooi. Ek het seker maar net besef dat hy nie met my dogter sal mors nie. Hy het duidelik ‘n hart vir mense. Hy het die uitnodiging halfversigtig aanvaar. Ek het Michelle gebied om saam met hom Brinkenheim toe te ry. Dit het geen onduidelikheid gelaat dat ek die verhouding nou goedkeur nie.
Die middag het heel aangenaam verloop. Anton en Nadia het net hulle kos deurmekaar gekrap. Ek sal sweer dat hulle ‘n kompetisie aan die gang het om te sien wie eet die minste. Pieter het Brian besig genoeg gehou om nie die ander twee te irriteer nie. Michelle het ook deur die loop van die middag haar stugheid verloor. Ek hou regtig van Pieter, hy is nou wel ouer as Michelle. Maar as sy 23 was en hy 30 het niemand ‘n woord gesê nie. Dit is darem nou ook nie asof hulle gaan trou nie.
Ek het geweet sy dankie was meer as net vir die bord kos wat hy ontvang het. Hy sal in die toekoms ‘n gereelde gas wees. Natuurlik het Anton en Nadia weer ‘n tjek gesoek voordat hulle weg is. Brian en Michelle het die bediendes gehelp opruim terwyl ek met ‘n boek ontspan het. Dit gebeur nie dikwels nie.
Natuurlik het ek ‘n paar geskenke deur die loop van die dag gekry. Die grootste was egter toe Michelle haar arms spontaan om my geslaan het en gesê het: “Dankie, Mamma.”
Filed under: Episode
Ek kon my oë nie glo toe ek vanmiddag Pieter Nortje in die gim gewaar nie. Ek het gedink die luis sal net in donker hoekies met dogter vry. Daar staan hy oop en bloot ogies maak vir haar. Kastig besig om vir lidmaatskapaansoek te doen. Ingrid het subtiel die meisie van ontvangs weggestuur, maar ek was nie lus om beskaaf te wees nie.
“Wat doen jy met my dogter?” het ek hom reguit gevra sonder om te groet.
Vir ‘n oomblik het hy uit die veld geslaan gelyk. Half verdwaas. Hy het beleefd gevra wat ek bedoel en dit is net daar waar ek dit verloor het. Praat van ‘n wolf in skaapklere. Ek het hom presies vertel wat ek van hom en mans soos hy dink. Wat onder skool dogters moet vry en hulle onskuld beroof. Hy is veronderstel om ‘n onderwyser te wees en kinders te beskerm – nie uit te byt nie. Ek was net mooi op dreef, toe Michelle my onderbreek.
Daar kom die waarheid uit tot ons almal se groot skok. Michelle het voorgegee om sy ouderdom te wees. Hy het nie geweet dat sy nog op skool is nie. Hy het so verwese gelyk, ek het hom sommer jammer gekry.
“Hoekom?” het hy amper in trane gevra.
“Want skoolseuns verveel my.” het Michelle haar skouers opgehaal.
Sy was self ook naby trane gewees, duidelik was sy nie op die wending voorberei gewees nie.
Hulle is na buite om die saak uit te praat. Ek is nie seker wat verder gebeur het nie. Michelle is weer soos ‘n sfinks.
Filed under: Episode
Jammer vir die lang afwesigheid. Daar was net te veel dinge gewees wat my aandag geverg het. Sal hopenlik nou weer beter gaan.
*****************************************************************
Michelle is vanoggend skool toe, met ‘n selfgeregtige houding wat ek met die grootste liefde van haar af sou gehaal het, mits ek die guts gehad het. Fok, hou het sy van my affair uitgevind? Ek het nogal gedink dat ons baie diskreet was. En hoe lank het sy daarvan geweet.
Nie juis dat dit saak maak nie, Michelle moet doen wat ek sê en nie wat ek doen nie. Daar moet verseker iets wees wat onderwysers verhoed om iets met skooldogters aan te knoop. Nodeloos om te sê, ek was nie in die beste van buie nie. Ingrid het dit opgetel en ek moes maar weer in die beskuldige bank staan. Vir een keer was sy darem aan my kant en het belowe om met Michelle te praat.
Nie dat dit veel gehelp het nie. Michelle het glo net haar skouers opgehaal. Sy voel ‘n veer en is vas van plan om met die verhouding voort te gaan. Ek neem aan daar het ‘n paar harde woorde tussen haar en Ingrid geval. Hulle kyk skaars vir mekaar.
My laaste hoop was Bertus. En hy wil nie betrokke raak nie. Soveel dat hy altyd met die kinders betrokke wil bly. Hy reken dat ek met die mannetjie moet gaan praat. Ek het hom duidelik laat verstaan dat dit sy plig as vader is. Hy beter ook vinnig optree, voordat sy dogter ‘n tienermoeder word.
Ek is sommer lus en pos haar vir hom. Die mannetjie sal nie alles kan los om agter haar aan te dros nie.
Filed under: Episode
Michelle het op die stoep by my aangesluit. Haar houding was versigtig en opsommend, ek het sommer geweet sy weet dat ek weet.
“Wat het jy vir jouself te sê?” het ek kalm gevra.
“Niks.” het Michelle haar skouers opgehaal.
“My donner, Michelle. Jy kan darem nie met ‘n ‘n volwasse man ‘n verhouding aanknoop en dan verwag dat ek gelukkig daarmee moet wees nie. Hy is ‘n onderwyser. Ek is seker die verhouding dra nie sy hoof of die departament van onderwys se goedkeuring weg nie. Wat op aarde het julle …. het jou besiel?”
Michelle het teen die stoeppilaar geleun. Ek is seker elkeen van my woorde het by haar een oor in gewaai en by die ander een uit.
“So?” het sy geblaf.
“So?? So?!!! Jy kan tog seker sien dat dit nie gaan werk nie. Jy moet die verhouding beëindig, jy moes dit in die eerste plek nie begin het nie. Daar is seker genoeg seuns, self studente waarmee jy jou kan vermaak. Jy is 16, beslis nog te nat agter die ore vir ‘n volwasse verhouding.”
Michelle het gegryns en ek het geweet wat volg nog voordat sy haar mond oop gemaak het. “Daar is nie genoeg skoolseuns vir my en Ma nie. Ek wil beslis nie Ma se oorskiet hê nie.”
Ek kon haar met ‘n glimlag verwurg het. Sy het die huis binne gegaan en haar nie gesteur toe ek haar terug gebied het nie. Ek wonder net hou het sy daarvan uitgevind? My hande is seker gebind, hoe kan ek haar van morele waardes leer as sy dink ek het nie veel daarvan nie?
Filed under: Episode
Michelle Brink gaan my in ‘n vroeë graf instuur. Voor dit gaan sy my aan drank en hoërskoolseuns verslaaf maak. Goed, ek weet ek het al die hoërskoolseun ding gedoen, maar dit was net tydelike kranksinnigheid.
Dit is bevestig. Michelle is verlief en verlore. Sy is ook met baie goeie rede so geheimsinnig oor die mannetjie. Sy weet verseker dat ek haar en sy nekke kort bo hulle stuitjies gaan omdraai. Michelle het besluit sy is te gesofistikeerd vir skoolseuns. Sy gaan uit met die landbouskool se nuwe onderwyser. Ene Pieter Goosen.
Is dit nie oneties nie? Hy is nie besig om te proef nie, hy is voltyds as ‘n onderwyser aangestel. Hy is dus ten minste 4 jaar klaar met skool. Die feit dat hy tersiêre opleiding voltooi het maak hom nie minder onverantwoordelik nie. Hy is seker nog volspoed besig om sy wilde hawertjies te saai. Seker met my dogter ook.
Michelle is 16, maar ook maar net-net. Sy is maar gr 11. Al is sy baie volwasse vir haar ouderdom dink ek nie sy is al reg vir ‘n grootmens verhouding nie. Goosen gim ook by ons. Ek het niks teen die man nie, hy lyk heel aangenaam, maar as hy in ‘n skoolmeisie belangstel sê dit nie veel van sy karakter nie. Ek dink hy het pedofieliese neigings.
Ek het hulle saam in die dorp gesien, waar hulle droomverlore oor ‘n bordjie slaptjips in mekaar se oë staar. Ek wou hulle net daar gaan vasvat, maar dan sou dit vinnig oor die dorp versprei het. Die Brinks kan nie nog ‘n skinderstorie bekostig nie.
Ek het my egter tuis gemaak op die stoep en nou wag ek Mej Brink in. Sy beter haar storie agter mekaar hê.
Hoekom kan my dogters nie ordentlike mans kies nie.
Filed under: Episode
Michelle is deesdae in ‘n bui, een wat ek hoop nie gou uitgeput word nie. Buierigheid loop sterk aan beide kante van die families, dus is dit nie snaaks dat die kinders meestal dikbek is nie. Deesdae nie Michelle nie.
Die afgelope week of drie kan jy met haar ploeg. Sy het self vir Nadia en Anton ‘n vriendelike woord. Niks kan haar bui bederf nie. Beter nog, dit blyk erg aansteeklik te wees. Ek kyk die heeldag in tande vas. Self vang ek myself die heeltyd aan die neurie. Dat een mens se goeie bui so kan afsmeer.
Natuurlik het ek die konstante goeie bui bevraagteken aan die begin. Michelle het dit met ‘n drukkie afgemaak en singend in die gang afverdwyn. Sy het niks vreemd aanvaar nie. Ingrid kon haar altyd soos ‘n boek gelees en die keer is geen uitsondering nie.
“Sy is verlief.” het sy haar skouers opgehaal.
“Verlief?” het ek dom gevra.
“Ja, jy weet jou hart slaan bollemakisie en jy kan net aan een mens dink.” Ingrid kon dit nie los nie.
“Man, ek weet wat is verlief. ” het ek ergelik opgemerk. “Dit is verseker nie die eerste keer dat sy verlief raak nie, sy word darem al 17. En hoekom so vrolik? Die kere wat ek verlief was, was ek baie buierig. Nadia ook as ek reg onthou. Wat gaan dan met haar aan? Lagpilletjies in?”
Ingrid het gesug. “Jy moet ook altyd sleg van die girl dink. Nee, sy het nie dwelms in nie. Sy is waarskynlik so gelukkig omdat sy weet haar liefde word beantwoord.”
“Wat? Sy is in ‘n verhouding? ‘n Liefdesverhouding?”
“Ek vermoed so.” haal Ingrid haar skouers op. “Ek is nie seker nie, soos jy weet is sy nie net uitbundig vrolik nie, maar ook baie geheimsinnig.”
“Hoekom het sy hom nog nie kom voorstel nie?”
Die keer het Ingrid sommer haar oë gerol. “Van wanneer af is jy so outyds? Michelle is seker nog te betower met die verloop van sake. Ontspan nou, sy gaan nie more trou nie. Vertrou haar ‘n bietjie.”
So hier sit ek. ‘n Vermoedelik verliefde dogter en my vennoot reken ek is outyds.
Filed under: Episode
Daar het ‘n see vol water geloop vandat ek laas hier was. Dit is sommer om mee te begin twee en ‘n half jaar later. Ingrid is nog steeds kinderloos. Bertus het wel ‘n nuwe vrou gehad, maar hy het geensins die ander vroue afgesweer nie. Sy is vort met hulle kind en al. Hy het ‘n halfhartige poging aangewend om hulle te soek, maar geniet nou sy vrygesel bestaan. Hy kom besoek die kinders nog af en toe, maar hulle staan net in sy pad van algehele vryheid.
Brian is nog steeds sy oulike dierbare self. Ek het dit ernstig oorweeg om hom uit die tehuis te haal en voltyds op die plaas te hou, maar na ‘n paar dae is hy lusteloos. Hy geniet die tehuis. Hy verrig ook werkies daar, meer om die ledigheid aan te val as om geld te verdien. Ons moet ook meer en meer aan die tehuis skenk. Hulle versorging is afhanklik van geld. Minder geld beteken dat almal se versorging agterweë bly. Brian kry beslis nie voorkeur behandeling omdat ons sy onkostes en nog meer dek nie.
Nadia is toe met Anton getroud. So gou as wat haar erfporsie aan haar uitbetaal is. Daardie twee haal beslis die slegste uitmekaar uit. Van liefde maak is daar seker nie sprake nie, hulle baklei die hele tyd. Ook maar goed so, as julle my vra. Die erfporsie het nie eers ‘n jaar gehou nie. Geen mens weet wat hulle daarmee gedoen het nie. Alles seker deur hulle neuse. Hoekom hulle nog saam is, weet ek nie. Ons hou hulle maar so soort van aan die lewe. Albei tree dan en wan op, maar dit het nog lank nie die roem en geld ingebring waarop hulle gehoop het nie. Ek het al twee keer saam met Nadia oorsee gegaan. Sy het hier en daar oudisies gedoen, hier en daar ‘n bietjie opgetree, maar verder was dit meer net vir reis. Gelukkig kon Anton elke keer nie saam gaan as gevolg van ander verpligtinge.
Dan is daar my liewe Patroontjie. Na daardie wegloop episode het ons altwee baie hard aan die verhouding gewerk. Sy was nooit aangekla nie, daar was nie genoeg bewyse nie. Die moord is nog onopgelos. Michelle het nie net weer my dogter geword nie, maar ook ‘n vriendin. Een op wie ek kan staatmaak. Sy het so 18 maande gelede in die gym begin uithelp, dus is sy ook ‘n kolega. Sy is haar gewig in goud werd, ek wil nie eers daaraan dink oor hoe ons gaan klaarkom wanneer sy gaan swot nie. Ek het altyd gedink sy gaan ‘n veearts soos haar pa word, maar koester nou heimlik die hoop dat sy dalk ‘n fisio soos ek sal word.
Natuurlik baklei ons nog baie, veral waar Nadia te sprake is. Ja, dit word nog net so lelik as in die verlede. Die verskil is dat ons dit so gou as moontlik agter ons sit en aan beweeg. Die susters sal mekaar seker nooit kan verdra nie. Michelle het al haar babavet verloor of is dit nou weggesweet. Sy het werklik in ‘n pragtige meisie ontaard. Ook heeltemaal selfstandig, sy vra my nooit ‘n sent nie. Sy kom reg op wat haar pa haar gee en wat sy in die gim verdien het.
Wel, goed sal dit seker nie verewig gaan nie. Die swanger stilte is die voorspel van groot drama. Wie weet wat wag?
Filed under: Episode
Michelle het my blatant geignoreer toe ek langs haar stop en net aan gestryk. My humeur was weer bitter kort toe ek uit die Jeep spring. Ek het Michelle omgepluk om haar presies die waarheid te vertel.
“Los my uit” het sy gegil. Vir die wis en die onwis het ek haar ‘n goeie paar skudde gegee. Eers het sy net vir haar voete gestaar. Toe begin sy huil. Hard en onbeheers. Ek kon sien hoe sy alles in die stryd werp om haarself te beheer maar te vergeefs. Ek het ook geweet dat ek die oorsaak van die hartseer was. My baba, my Patroontjie, voel nie meer tuis in haar eie huis nie. Sy het ‘n weeskind geword, ‘n onwelkome weeskind daarby.
Ek het soos ‘n hond gevoel. Ek het haar net vasgehou tot sy bedaar het. ‘n Onverdiende luukse, ek kan nie onthou dat ek haar al ooit vasgehou het as sy hartseer was nie. Dit was gewoonlik net: “Hou nou dadelik op met tjank voordat ek jou iets gee om oor te tjank.” Ek het haar mooi gevra om terug te kom huis toe.
Sy het ingestem. Ons het altwee geonderneem om hard aan ons verhouding te werk. Dit is nog nie te laat nie, ons kan saam nog iets red. Van nou af gaan ons met mekaar praat en luister.
Het ek nog die reg om myself as Michelle se ma te sien? Of moet ek net probeer om haar vriendin te word.
Filed under: Episode
Is daar ‘n kind in Suid-Afrika wat nog nie hulle tassies gepak het nie?
Brian doen dit gereeld, by die inrigting en tuis. Die oomblik wat hy nie geliefd genoeg voel nie, dan pak hy op en trek. By die inrigting trek hy by die stoorkamer in, tuis is sy nuwe blyplek die buitekamer. Binne 20 minute het hy vergeet dat hy getrek het. Jy kan hom maklik van plan laat verander met ‘n lekkerny. Soms kom ‘n mens nie eers agter dat hy hom gewip het nie. Tot hy die aand begin huil vir sy Bersie. Dit is gewoonlik te vinde na waarheen hy getrek het. Hy trek ook nooit formeel terug nie.
Nadia het haar groot trek geloods in Gr 11. Die Juffrou wou skool los en voltyds musikant raak. Bertus het volstrek geweier om die saak te oorweeg. Ek het sy punt ingesien en was bitter bly dat hy so sterk standpunt in neem. Ten minste was ek nie die bad guy nie. Na weke van norsheid, trane en selfmoord dreigemente was sy net een aand weg. Ek kan nie die skrik verduidelik nie. Ek kon net bid dat sy nie selfmoord probeer pleeg het nie. Ek het haar kas oopgegooi en besef dat sy haar goed gevat en geloop het. Dit het 3 dae geneem voordat ons haar by haar destydse ou opspoor.
Bertus het die mannetjie goed die leviete voorgelees. Tuis was dit ek en Nadia, met Bertus daar vir morele ondersteuning. Ek het haar goed laat verstaan dat ek nie vir sulke speletjies te vinde is nie. As sy ooit weer ‘n sent van ons soek, sal sy haar by ons reëls neerlê. Nou dadelik. Voordat sy die moeite doen om uit te gaan pak. Sy het so ‘n week lank van haar prima donna maniertjies daarna vergeet.
Michelle het gister haar wegloop poging geloots. Ek en sy het weer ‘n argument gehad en vir ‘n oomblik het ek gedink sy gaan my aanval. Sy het egter net omgeswaai en huis toe geloop. Ons bediende het gebel om my te vertel dat Michelle met ‘n rugsak in die pad geval het. Ek het haar ‘n halfuur kans gegee om die ergste van haar bui af te loop. Sy was al op die teerpad toe ek langs haar stop.
Word vervolg.
-
Subscribe
Subscribed
Already have a WordPress.com account? Log in now.