| CARVIEW |
Hierdie stuk is uit ‘Status Anxiety’ van Alain de Botton. Kyk bietjie hoe perfek is die vrou op die voorblad se kleurkoordinasie tussen skoene, tuinhandskoene en bloes. Dit laat my dink aan Katriena, die huishulp in Riana Scheepers se Katriena reeks, wat eerste ding toe sy by haar potensiele werkgewer se huis instap tersluiks kyk of dit die soort vrou is wat haar vadoeke omhekel, want soos sy in haar wysheid sê: “Vir die soort vrou wat haar vadoeke omhekel het ek nie krag nie.”
…….Left to their own devices, our emotions are as likely to push us towards indulgence, uncontrolled anger and self-destruction as towards health and virtue. Because it seems characteristic for these emotions either to undershoot or overshoot their targets, philosophers have counselled that we use our reasoning faculties to guide them to an appropriate end, asking ourselves whether what we want is truly what we need and what we fear is truly what there is to be afraid of.
In his Eudemian Ethics (c. 350 BC), Aristotle offered examples of how human behaviour will, if left unexamined, typically err towards extremes and outlined an ideal or golden mean, as stolid as wise, towards which we should aim to direct it with the help of reason:
|
– |
PHILOSOPHICAL IDEAL |
+ |
|
Cowardice |
Courage |
Rashness |
|
Stinginess |
Liberality |
Profligacy |
|
Spinelessness |
Gentleness |
Rage |
|
Boorishness |
Wittiness |
Buffoonery |
|
Surliness |
Friendliness |
Obsequiousness |
Ek kan nie byhou met wie al ge-etikeer is nie, daarom etikeer ek nou vir eers net vir Alleman en Mieliepap.
]]>Ek voel ‘n jammerte in my opwel vir die ouma en oupa wat desperaat probeer aanklank vind by ‘n kosbare kleinkind wat hulle heelwaarskynlik net een keer ‘n jaar sien en dit in ‘n taal wat ongemaklik aan hulle sit soos ‘n dik jas in die middel van somer. En ek wonder hoekom die ouerpaar dit nodig vind om hulle kind in Engels groot te maak. Voel hulle hul het nou die stof van Suid-Afrika so voldoende van hulle voete afgeskud dat selfs hulle moedertaal vir hulle niks meer beteken nie. Of verkeer hulle onder die wanindruk dat hulle die kind ‘n onguns sal aandoen deur hom in Afrikaans groot te maak.
As mede Afrikaners wat op die oomblik in Engeland bly kan ek bevestig dat dit beslis ‘n wanindruk is, want ek en my man het van geboorte af net Afrikaans met ons seun gepraat. As ons vir hom boeke lees vertaal ons dit ook in Afrikaans so met die lees saam. Die gevolg is dat hy ‘n fenominale Afrikaanse woordeskat het en ‘n bemeestering van die taal wat ek nog nooit vantevore by ‘n driejarige of selfs heelwat ouer kind gehoor het nie. Hy het wel van kleins af by die dagmoeder net Engels gehoor en as ons by vriende kuier gesels ons ook noodgedwonge in Engels. Daar is geen teken daarvan dat die blootstelling aan twee tale hom enigsins terugsit in sy taalontwikkeling nie. Inteendeel, een van die eerste dinge wat sy onderwyseres vir ons gesê het was dat hy ongelooflik goed Engels praat vir sy ouderdom – sulke lang en komplekse sinne was haar beindrukte kommentaar.
Wanneer ons in Suid-Afrika kuier spreek mense altyd hulle verbasing uit dat hy wel Afrikaans kan praat. Meer nog is hulle ongeloof oor hoe hy praat, want in die afwesigheid van die invloede van ander Afrikaanse kinders/TV/tieners praat hy ‘n baie suiwer Afrikaans. Sy niggies en nefies is verstom wanneer hy ‘n legkaart wil bou of skoppelmaai wil ry, want ‘puzzle’ en ‘swing’ het lankal hierdie oudmodieuse woorde uit hulle woordeskat verplaas.
Ons is nugter genoeg om te weet dat, namate hy ouer word en net Engels met maatjies en in die skool praat, die gevaar altyd daar is dat hy die pad van soveel van ons tweede geslag immigrant vriende gaan volg wat hulle moedertaal nog net met hulle ouers praat, terwyl hulle Engels met hul broers en susters praat. Om daardie rede het ons dit oorweeg om te probeer kontak maak met ander Afrikaners wat in Engeland woon, maar diesulkes wat ons wel al toevallig raakgeloop het, maak almal hulle kinders uitsluitlik in Engels groot. Ek wonder oor hulle motiewe. Miskien is dit die genoemde wanindruk dat dit vir die kind se beswil is, miskien is dit ‘n diepe miderwaardigheid teenoor die Engelse wat maak dat hulle enige iets sal doen om in te pas en tog net nie as ‘foreigners’ uit te staan nie, of miskien, en mees waarskynlik dalk, is dit plein aansitterigheid.
]]>Wat sê mens in so ‘n geval? Jou vermetele vloeksel, hoe durf jy my foon steel? Gee hom onmiddelik terug. Of, dankie vir die moeite met my fotos jou bedagsame dief.
]]>Liefste Familie,
Ek is jammer dat dit nou al weer ‘n tydjie is sedert ek laas geskryf het. Ek het maar bietjie gewag en gehoop dat dit beter sal gaan, dan kan ek ten minste goeie nuus skryf.
Vanaand verlang ek weer so baie. Ek mis julle en ek mis ons land met sy duidelike onderskeid tussen son, see, lug en aarde, waar alles nie in een grou, grys kombers saamsmelt nie. Ek mis sonsondergange en skadus en ek mis stories. Snaakse ding om te mis: mense se stories.
Dit is so bitter nat en bitter koud en bitter mistroostig. Deesdae stap ek elke oggend padlangs bus toe, want die sypaadjies is vol lang, pienk erdwurms. Hoekom sal erdwurms uit die grond kom en op die sypaadjies vergader? Is die grond selfs vir hulle te nat? Ek weet nie en daar is ook niemand wat ek kan vra nie. Om te wonder oor dinge word nie geduld hier nie. My mede-studente se gesprekke gaan oor hoe baie hulle gedrink het en waar hulle orals gekots het. Ek drink nie so baie nie en ek kots nie so graag nie. Ek wonder eerder oor die erdwurms. Ons het nie veel vir mekaar te sê nie.
Verder leer ek fluks en werk hard, maar daar was vandag amper ‘n ding. Die vrou wat my moet help is besig en ek is vir haar net ‘n irritasie. Sy blits heen en weer en blaf bevele oor haar skouer. Haar aksent is so swaar en my oor is, selfs na ‘n paar maande in Engeland, nog nie gewoond aan die moeilike Yorkshire aksent nie. Ek het haar nie reg gehoor nie en iets verkeerd gedoen. Nou moet ek van heel voor af begin.
Dinge is seker anders in London, daar is mos heelwat Suid-Afrikaners en elke tweede persoon is ‘n uitlander van een of ander soort. Hier in die Noorde is dit kouer en gryser met baie minder mense van ander kulture. Die Engelse het vir ons uitlanders niks tyd nie. Waar ek werk is daar darem ‘n Sjinese outjie ook. Ek en hy sit gewoonlik bymekaar. Ons gesprekke is moeisaam, want hy verstaan baie min Engels en Yorkshire kan hy glad nie volg nie. Ek vertaal maar so stuk-stuk vir hom die nodigste. Partykeer dink ek hy is gelukkig in daardie opsig. Hy is heeltemal onbewus van die snydende, sarkastiese opmerkings en van die feit dat almal hom ‘the bad breath’ noem.
Dankie vir jou epos skoonsus Ella. Jy sê ons moet bietjie vir jou geld stuur, dan kom kuier jy vir ons. Jy sê ons is mos nou die gelukkiges wat ponde verdien en skatryk is. Ja Ella. Ek is bly om te hoor julle het die vakansie by julle strandhuis in Jeffrysbaai geniet en dat Hennie se nuwe vier-by-vier soos ‘n droom ry. Tog gaaf dat ou Anna kon saamgaan om na die kinders te kyk en te kook. Ai Ella, betaal haar tog maar ‘n bietjie meer, want hier in die Noorde van Engeland is daar vir uitlanders omtrent net een werk en dit is skottelgoed was. Dit is harde werk en dit betaal bitter min.
Ek sal nou maar eers groet, want my hande is te styf van die koue om verder te skryf. Hier is wel ‘n soort van verwarmer in ons eenvertrekwoonstel, maar ons sit hom nou al vir die afgelope twee weke nie aan nie. Hy vreet ponde en ons ponde is boomskraap.
Nou sal ek hierdie brief bêre, want ek sal hom nooit pos nie. More sal ek vir julle die brief skryf wat ek wel sal pos. Die brief waarin ek julle sal vertel van al ons interessante ervaringe op ons groot geleentheid oorsee. Van erdwurms op sypaadjies en van hoe snaaks die Yorkshire aksent is. Van die vrou in die winkel wat gesê het: “O-a-ê” en toe al die tyd bedoel het: “Do you want a bag?” en van hoe sy haar vererg het omdat ons haar nie kon verstaan nie en van hoe lekker ons later daaroor gelag het.
Tot more dan my liefste familie.
]]>Maar eksentriekheid is nie tot die akademici beperk nie. Ons departement is ook baie verdraagsaam. So het ons byvoorbeeld vir Stan. Ek weet nie wat sy werksbeskrywing eintlik is nie, maar so elke nou en dan kry ons ‘n epos op die trant van dat ons self ons pakkies moet gaan haal as daar ‘n aflewering is vir ons, want Stan se dienste word elders benodig. Dit gebeur egter nooit, want voor die stoorman nog kan bel om te sê: “Daar is ‘n pakkie vir jou, kom haal dit asseblief,” kom Stan al die gang afgesuiker met die pakkie. Dan plak hy dit onserimonieel neer op enige plek in die lab en maak homself sit daarop. Daar sal hy ten minste vir ‘n uur sit en twak praat, terwyl jy half benoud in jou kop probeer uitwerk wat jou laaste bestelling was en of daardie pakkie dalk enige sensitiewe, radio-aktiewe of potensieel plofbare goed bevat. Jy kan in elk geval nooit die draad van sy stories volg nie, want sy stories vorder so met die gang af en met die trappe op. Hy vat hom sommer in die middel van die sin verder na die volgende lab. Al wat ek weet, is dat dit gewoonlik een of ander sonde met die bure behels.
Dan is daar ons Jamaikaanse teemaakster. Vriendelik, vrolik, volgerond en baie vryerig. My vriend, Saroj, is een van haar gunstelinge. Waag hy dit agter die toonbank in keer sy hom vas met allerhande onvanpaste aanmerkings. Net gister sê sy vir hom: “Saroj, that is a very bad cough you have. You need a good rubbing down. Oooh, I would like to do tha-at.” Die arme man vergaan amper, want hy is ‘n baie streng Hindu. Hy eet nie eers knoffel nie. Knoffel is blykbaar ‘n liefdesdoepa. Dit kan lei tot onheilige gedagtes en ander dinge.
Verder is daar ons hopeloos kens skoonmaakster. Sy is altyd besig om die voorportaal te vee in die oggende wanneer mense aankom en dan gluur sy jou aan, mompel onverstaanbare dreigemente en jy beter jou spring ken of sy kom jou met die besem by. ‘n Kollega het haar eenkeer gekry waar sy binne in ‘n stikdonker kas haar toebroodjie sit en eet. Sy woon partykeer ons departementele vergaderings by. Dan onderbreek sy elke nou en dan die departmentshoof met luide, onverstaanbare kommentaar.
Die wonderlikste is dat almal heeltemal gelukkig saamwerk. Niemand kla oor Stan sekerlik die mees nuttelose werknemer is nie. Niemand spreek ons teemaakster aan oor haar origheid nie en niemand het al vir die skoonmaakster, in een van haar min helder oomblikke, probeer oortuig om af te tree nie. Hoekom sal ons ook? Ons kry ons pakkies, ons plek is skoon en ons tee word bedien – met ‘n glimlag en ‘n tikkie menslikheid daarby.
]]>Toe kom sy met die uitklophou. Gesogte skool se wetenskap klub het ‘n prys gewen vir die beste voorstel om energie verbruik te verminder. Die kinders het ‘n nuwe soort kougom ontwerp wat van byewas en denneboom gom gemaak word en nie aan oppervlaktes vaskleef nie. Gewone kougom word van ru-olie gemaak en as dit eers plak klou dit soos superglue. ‘n Groot klomp energie en meer as a duisend liter water word per uur benodig om kougom wat ongeërg uitgespoeg en dan in die strate vasgetrap word met stoom onder hoë druk af te spuit. Gesogte skool se kinders se plaklose, bio-afbreekbare kougom is al gepatenteer en alles. Hulle prys was ‘n reis na die poolstreke waar daardie bevoorregte kinders nou saam met wetenskaplikes metings doen om die effek van globale verhitting vas te stel. Dit wil dan tog lyk of sekere omgewings innovering en kreatiwiteit aanmoedig (lees ook hierdie artikel oor innovering).
Van toe af wonder ek oor die ding. Sou ons baie anders gewees het as ons in Gesogte skole was? Sou ons meer kreatief wees, wyser, beter gevaar het in ons werk en die lewe in die algemeen. Sou ons interessanter mense wees as ons operas kon bywoon eerder as die een-keer-‘n-kwartaal se vlak Western in die skoolsaal? Sou ons aardskuddende ontdekkings gedoen het as ons wel somtyds ‘n insek of plant in die natuur dopgehou het of selfs eenkeer deur ‘n mikroskoop gekyk het eerder as om opstelle te skryf oor die rangskikking van blare aan ‘n petuna blom? Sou ons beter leiers gewees het as ons die gevolge en dade van geskiedkundige aksies vertel is (of moes aflei en uitwerk) eerder as dooie datums en feite?
Die kursus wat ons aangebied het was ‘n oorbruggingskursus vir studente van agtergeblewe gebiede wat nie matrikulasie vrystelling gekry het nie. ‘n Tweede kans vir hulle om universiteit toegang te kry. Aangesien daar geen manier was om te weet watter studente regtig nie die vermoë het om ‘n universiteitskursus te doen nie en watter studente net ‘n uiters swak en gefragmenteerde skoolopleiding gehad het, of hoe die twee dinge aanmekaarskakel nie, was daar geen keuring vir studente om die kursus by te woon nie. Ons het dus ‘n klas van individue met hoogs verskillende vermoëns gehad. So was daar een student, kom ons noem hom ML, wat geweldig gesukkel het. Ek sal die prentjie altyd in my kop hê van hom gebukkend oor sy eksperiment, gesig die ene konsentrasie, houding van desperate ywer om sy lewe te verbeter. Hy het selde ‘n eksperiment in die aangegewe tyd klaar gekry en nooit enige suksesvolle resultate behaal nie. Tot die dag dat ons besluit het om die beginsel van superversadigde oplossings aan die studente te illustreer. Dit is wanneer jy ‘n oplossing maak, teen ‘n baie hoër konsentrasie as wat jy gewoonlik die chemikalie kan oplos, deur die oplossing te verwarm. As jy dit dan stil los om af te koel sal die oplossing nie kristalliseer nie. Om dit dan te kristalliseer, kan jy bv. net met ‘n lepel teen die kant van die proefbuis skraap. Dit is ‘n baie eenvoudige prinsiep wat kinders gewoonlik vroeg op hoërskool al leer, maar aangesien meeste van die studente nooit eers ‘n proefbuis op skool vas gehou het nie, het ons dit ingesluit by hulle eintlike eksperiment, sommer so as ‘n interessante tersyde. Ons deel toe vir elke student ‘n proefbuis uit met die superversadigde oplossing in, met streng opdrag dat hulle nie daaraan moet raak tot aan die einde van die prakties nie, want dan gaan ons dit almal saam doen. Tevergeefs, daardie studente was heeltemal te gretig. Hulle kon daardie proefbuise net nie uitlos nie en het die heeltyd daarmee gevroetel, dit bekyk en dit geskud. Almal behalwe ML. Hy was weereens so desperaat besig om sy eintlike eksperiment te doen dat hy heeltemal van die proefbuis vergeet het. Na die prakties is sy oplossing ook toe die enigste een wat nog nie gekristalliseer het nie. Ek het die ander studente vorentoe geroep en vir hulle verduidelik dat ons gelukkig is dat ML se eksperiment gewerk het en dat ek nou dit sal gebruik om die beginsel van ‘n superversadigde oplossing aan hulle te illustreer. Ek vat toe sy oplossing, doen my ‘magic’ en siedaar, die oplossing begin kristalliseer van die kant van die proefbuis af. Almal het ge-oe en ge-a en ML het geswel van die trots. So trots was hy dat hy weke daarna nog vir my kom sê het: “Ma’am, that was a beautiful experiment Mam.”
]]>Ander is nie so gelukkig nie. Hulle is baie ver heen en glad nie in staat om vir hulle self te sorg nie. Hoekom word hulle dan nie versorg nie? Die rede is een van politieke woordspel. Die vorige konserwatiewe regering het gevoel dat die versorging van gekkes te swaar op die staatskas leen. Hulle kom toe met ‘n ‘briljante’ plan voor die dag. Maak al sulke inrigtings toe en kondig aan dat inwoners van nou af deur ‘Care in the community’ versorg gaan word. Dit is ‘n baie indrukwekkende idee, maar met een groot probleem: In Engeland is daar geen ‘community’ nie en dus is hierdie mense eenvoudig aan hulle lot oorgelaat.
Die gebrek aan gemeenskap is pynlik geilustreer toe ek nou die dag deur ‘n vreemdeling geroep is net voordat ek by die huis ingaan. Sy is smoordronk en heeltemal emosioneel. “You know mum,” sê sy vir my. “Therefore, I thought I could talk to you.” Toe volg daar ‘n hartseer storie van haar ma wat in die hospital opgeneem is en van dat sy nie weet wat om te doen nie. Sy verstaan nie wat die dokters vir haar sê nie. Sy voel skuldig, want sy was net vir ‘n week op vakansie, nou is haar ma in die hospitaal. Ek nooi haar naderhand in en terwyl sy op ons sitkamer bank sit en huil en koffie op die vloer stort, tref dit my. Sy moet die dogter wees van die verwese vroutjie by die kantien in die gebou oorkant my werk. Ek het eenkeer by haar ‘n toebroodjie gekoop en toe vertel sy my dat sy in ons omgewing bly, want sy het my al met my seuntjie in die park sien speel. Sy het sag gepraat, want sy het blykbaar keelkanker gehad. Ek het eenkeer weer daar gekom. Sy was nie daar nie en haar kollega agter die toonbank kon my nie sê hoe dit met haar gaan nie. Net skouers opgehaal en gesê dat sy nie haar foonnommer het nie. Nou sit haar dogter hier by ons en ek weet nie hoe om te troos nie. Sy is nie in staat om alleen te wees nie. Het sy enige familie, vra ek. Ja, dit blyk sy het twee susters in Cambridge, maar hulle gee niks vir haar of haar ma om nie. Ek sê vir haar dat ek hulle sal bel dan kan sy eerder vanaand by hulle bly om nie alleen te wees nie. Miskien is dit die drank, maar my voorstel word met aggressie begroet. “Bly julle al lank hier in die omgewing?”, vra ek versigtig verder met die hoop dat daar goeie bure is wat dalk ‘n ogie oor haar sal kan hou. “No! How can you say that!” antwoord sy. “Sy hou aan met se dat sy met my kan praat, “because you know mum”. So sit ons, ek en die dogter van die vrou by wie ek eenkeer ‘n toebroodjie gekoop het. Ons het niks vir mekaar te sê nie. Ons leef in verskillende werelde. Ons paaie sou nooit kruis nie en onder ander omstandighede sou sy my sekerlik nie eers gegroet het nie. Nou is ek vir haar die enigste baken van hoop in haar tyd van nood. Ek voel ‘n knop in my keel. Dat ‘n gemeenskap so nikseggend, so nietig kon word, dat hierdie vrou niemand anders het om haar na te wend as ‘n uitlander wat met wie haar ma eenkeer ‘n paar woorde gewissel het nie. Hoe vorentoe vir so ‘n nasie?
]]>
