| CARVIEW |

Stappe neem
.
My lyf,
dink die volstruis,
sal ek van hier tot daar
kan bring,
deur een voet voor die ander
te sit;
maar ek moet dit dóén.
.
Deur my vier voete
stil soos ’n dooie vuur
te beweeg
oor die krakerigheid
van dooie blare,
gaan ek naby daardie tarentaal kom,
dink die tierboskat.
Dan gaan ek hom eet.
.
So vinnig flits my vier bene,
jy kan dit amper nie sien nie,
skiet ek by die skuiling in,
dink die veldmuis,
en luister na sy trillende hart.
.
My lyf,
dink ek,
sal ek van hier tot daar
kan bring,
deur een voet voor die ander te sit;
maar ek moet dit dóén.
.
Wil ek?
Dit is so veilig hier.
Maar ek moet.
Voete kan ’n rukkie staan
maar kan nooit
ophou loop nie.
]]>
Ek sien haar nie
.
Verteller
.
My kop
is ’n glasbol.
In die oggendlig
kan jy sien wat binne aangaan.
Ek self kan nie my kop sien nie,
my oë sit in my kop.
.
Vertel my wat jy sien
aangaan in my kop.
.
Leser
.
Wolke wat haastig
agter mekaar aanhardloop,
besig om in die haastigheid
’n hemp, ’n bloes, ’n trui aan te trek.
.
Nou ’n ratel
wat in die paadjie afdraf,
snuiwend na die reuk van heuning.
Hy het pas ’n gesprek gehad
oor die syn
met ’n brulpadda
wat niks gesê het nie,
net gelyk het
of hy die wiskunde
van bestaan verstaan.
Dalk het hy.
.
Verteller
.
Kan jy sin maak
uit hierdie dinge?
.
Leser
.
Ek dink ek kan,
as ek dit versigtig uitsmeer
op ’n mikroskoop se glasplaatjie
en dit met ’n supervermoënde
oog bekyk.
.
Verteller
.
En jou gevolgtrekking?
.
Leser
.
Nog geen gevolgtrekking nie.
Ek is nog besig om te lees.
Daar is ’n medusa in jou kop
met gecoifurede hare
en film-gehalte grimering.
Skrik jy vir haar?
.
Verteller
.
Ek weet van die dodelike oë
van Medusa.
Maar ek is nie bang vir haar nie,
ek kan haar nie sien nie.
]]>
In hierdie boom
Kom slaap in hierdie boom, in hierdie boom.
Stoot die aarde terug in hierdie boom, in hierdie boom.
Skep die aarde in hierdie boom, in hierdie boom.
Vergeet die nag in hierdie boom, in hierdie boom.
Bou die bene op in hierdie boom, in hierdie boom.
Vermy die stof in hierdie boom, in hierdie boom.
Sny die lig af in hierdie boom, in hierdie boom.
Vul die oogkaste in hiedie boom, in hierdie boom.
Skryf, skryf jouself aan die lewe in hierdie boom.
Uit Frans vertaal deur De Waal Venter
Dans cet arbre
Jacques Roubaud
Descends et dors dans cet arbre, dans cet arbre.
Repousse la terre dans cet arbre, dans cet arbre.
Ecope la terre dans cet arbre, dans cet arbre.
Désinvente le noir dans cet arbre, dans cet arbre.
Reconstruis des jambes dans cet arbre, dans cet arbre.
Décline les poussières dans cet arbre, dans cet arbre.
Coupe la lumière dans cet arbre, dans cet arbre.
Emplis les orbites dans cet arbre, dans cet arbre.
Ecris, écris toi vivante dans cet arbre.

Skrif
.
Inkstrepies, kort en lank,
horisontaal, skuins, gekrul,
kolletjies
vertel vir jou
van die houtbank langs die see,
die horison
waar lug en see
onseker word van hulleself.
Leë oesterskulpe
met binekante oorstelpend kleurryk,
tempels versier deur surrealitiese skilders;
korreltjies fyn sand,
nageslag van oertydse rotse.
Strepies ink op papier
laat jou verstaan
hoe dit voel
as die son roerloos op jou hand lê,
’n arts wat objektief,
sonder vooroordeel,
jou pols bevoel.
Jy verstaan dat dit lyk
of die see onophoudelik,
skynbaar tevergeefs, probeer
om die land te beset, brander
na onsuksesvolle brander;
maar dit is nie waar nie –
die see probeer nie.
.
Merkies van die skrif
waarna jy kyk,
word hefboompies in jou denke
wat jou ’n wêreld
om jou laat skep.
]]>
Der
.
Dag der dae
is dit vandag.
Want ek lewe daarin.
Ek lewe nie in gister nie
en ook nie in môre nie.
In vandag
lewe ek her en der,
van asemhaling tot asemhaling,
van hier op my stoel
tot daar op die strand.
Ek leef in der waarheid
en in der daad.
Al voel ek hoe die nou
begin verrimpel,
leef ek in der tyd
derwaarts,
altyd vooruit,
altyd nuut.
Netnou wag om geleef te word
waarin ek miskien sal ontdek
wat der beteken.
]]>
Bepeinsinge van ‘n filosoof sonder opleiding
.
As atome dan so klein is,
hoekom is olifante so groot?
.
As atome opraak,
sal nuwe olifante
nog gemaak kan word?
Waar kan mens
standaard atome koop
in ’n supermark?
Wat kos hulle per kilogram?
.
O, maar party
is seker duurder as ander;
goud-atome kos seker meer
as hout-atome,
of kry mens nie meer
hout-atome nie?
.
Wat my verbaas,
is dat ’n meisie so mooi
gemaak kan word van daardie ronde korrels
van atome.
Ek kan dit amper nie glo nie.
.
Daardie neusie
so eiegeregtig bokant
die grasieuse lippe
van die meisie wat oor patrone praat
op materiale wat sy lappe noem.
.
Alles gemaak van atome,
die een hou vas aan die ander,
op hulle rûe ry weer ander
en hulle
ry op ’n ander klomp –
en daar het die meisie
se pruimbruin hare
wat lig roer in die wind.
.
Wind,
is dit ook atome?
Alles is darem nie
atome nie,
besef ek nou met verligting:
my woorde is nie atome nie,
net stukkies inligting
wat gesamentlik ’n groot klomp sin maak:
olifant.
]]>
Indeling van alles
.
My dinktuig
is vanoggend ietwat traag,
besef die filosoof
in sy bed
terwyl hy met skrefiesoë kyk
na die vroeë oggendlig
wat buitekant teen die venster leun.
.
Een van sy hane
het gekraai
en hom die laaste hupstoot
uit sy slaap gegee.
.
Theokritos, mompel hy,
dit is my naam.
.
Goed, dit is ’n begin.
Hy vat aan sy kop
wat ietwat pynlik klop.
My dinktuig
het koel wyn van Neapolis gekry
as brandstof,
te veel dalk?
.
Theokritos kyk na sy tone.
Sy dinktuig kom nou stadig aan die gang.
Vyf.
Aan elke voet.
Tien tesame.
.
Wat gebeur as ek tien
indeel in tien?
.
Sy dinktuig gaan in ’n hoër versnelling.
.
Dan skrik Theokritos terug:
Een!
Net een!
Net een toon!
.
Nee.
Dit is beter
om nie een gedagte
in ’n ander in te deel nie.
.
As jy alles
in alles indeel,
sit jy naderhand met net Een Groot Een.
.
Mono, mompel Theokritos.
Mono Theo.
]]>

q
]]>
Krimpvarkie!
.
Hy skuil in die waterkers
die bos die borselhare
pienk tong! pienk boud!
krimpvarkie! krimpvarkie!
.
Fynproewer van calisson
van room, van drop
in die dou gly hy verby
krimpvarkie! krimpvarkie!
.
Hy is nie bang vir die muis
wat in sy laai slaap nie
hy is ook nie bang vir die maan nie
.
ook nie, weens sy steekpenne
vir die stekelbos nie
maar sy swaar gewig hinder hom
.
Krimpvarkie! krimpvarkie!
Ons kry swaar! Ons kry swaar!
Uit Frans vertaal deur De Waal Venter
]]>
La Grive
Jacques Roubaud
Quand s’achève le mois d’octobre
quand les vendanges sont passées
quand les vignes rouges blessées
par l’automne saignent sombres
in, les animaux de tout le monde, Seghers jeunesse, 2004
.
Die lyster
.
Wanneer Oktobermaand verby is
wanneer die oes ingehaal is
wanneer die rooi wingerde, gewond
deur die herfs, donker bloei
.
wanneer die sipresse in swart skadu’s
hoog op die steil heuwels
worstel teen die stormwind
sien ons die kalm klein lyster
.
sit in die wingerd onder die blare
met haar mandjie druiwe
waaraan sy met haar slim snawel pik
.
muskate, granches, korrel na korrel
eet sy tot sy in die stof
rol, gelukkig en dronk.
]]>