Twee dae voor Kersfees kom my broerskind Maja by ons aan uit Nieu-Seeland om ‘n maand lank in die VSA by haar niggie V, dié se man P, en haar “Tannie Cicca” te kuier. Sy het sopas haar graad in Verpleegkunde behaal en gaan in Februarie 2026 by Ongevalle in ‘n Aucklandse hospitaal begin werk. Tien jaar gelede was sy ‘n middelskooldogtertjie, saam met wie ek eende in ‘n Nieu-Seelandse stroompie gevoer het. Nou het sy ontluik in ‘n pragtige, sjarmante, bedagsame jongmens, wie se gelaatstrekke my aan my broer herinner en met grysblou oë, ‘n samesmelting van my broer en sy Hongaarse vrou se oogkleure.
V se bewonderenswaardige talent vir beplanning en organisasie skop in en ‘n maand se opwinding volg, waartydens die uwe haar lyf toeris kan hou en orals heen kan saampiekel. Ons eerste groot avontuur is drie dae in Atlanta, die hoofstad van Georgia, so drie en ‘n half ure se ry van ons af. Die stad het besondere mooi geboue, ‘n mengsel van wolkekrabbers en geskiedkundige geboue wat goed onderhou word.
Hier is byvoorbeeld ‘n treffende bronsbeeld van ‘n arend (waarskynlik die “bald eagle”) voor die Federal Reserve Bank, geskep deur die Amerikaanse beeldhouer Elbert Weinberg. Dit weeg 3 300 pond (1 496 kg) en staan bo-op ‘n pilaar wat 48 voet (14 m) hoog is, een van vyf pilare wat van die vorige gebou af saamgebring is en nou voor die nuwe gebou pryk.

Ons bly in ‘n “pet-friendly” hotel in die hartjie van die universiteitsdistrik, maar dit is nog wintervakansie, met die gevolg dat die omgewing veel stiller as gewoonlik is. Die Amerikaners se spontane vriendelikheid bekoor my nog steeds: Vroeg daardie eerste aand vat ons my kinders se hond Honey om te gaan stap en ‘n verbyganger steek vas, vra of die hond vriendelik is, en krap haar agter die ore, duidelik ‘n hondeliefhebber. Dis Vrydagaand en hy is op pad iewers heen, netjies uitgevat en met die skoonste skoene wat ek in jare gesien het.
Later die aand besluit ons om die reën te trotseer en na die kersliggies in die botaniese tuin te gaan kyk – P bly by Honey in die hotel. V bestuur m.b.v. die GPS en slaag terselfdertyd daarin om per selfoon kontak te hou met Maja, wat besluit het om in ‘n wildvreemde grootstad, in die donker en in die reën, op ‘n gehuurde scooter na die tuin toe te ry! Ons laat haar begaan, want soos V sê, “sy maak nou ‘n wonderlike herinnering”, maar ek slaak ‘n sug van verligting as ons almal behoue by die tuin aankom. Dit reën sulke vet druppels en ons skoene is gou deurnat, maar die liggies en musiek is so pragtig dat ons nie eens omgee nie.
Saterdagoggend gaan eet ons wafels by die Waffle House en dié plek steel my hart, want hulle het “hot tea”! V besluit om by Honey te bly terwyl ons ander drie die Georgia Akwarium en die Coca-Cola Museum gaan besoek. Dit is die tweede keer dat ek so bevoorreg is om die akwarium te besoek, ‘n uiters gewilde en baie besige plek. Op ‘n stadium gaan sit ons voor ‘n tenk vol pragtige veelkleurige visse, met ‘n glasvenster wat van die grond tot teen die plafon strek. Die visse swem almal in een rigting en die mense stroom almal in die teenoorgestelde rigting verby: Hierdie plek is nie net ‘n akwarium nie, dit is ook ‘n “humanarium” 😉
Daarna stap ons na die Coca-Cola Museum wat net langs die akwarium geleë is. Ons het groot pret met ‘n toep wat ‘n foto neem en daardie foto dan as ‘n spesifieke karakter inklee – hier is die “Socialite”:

… en die “Traveller”:

Ons proe tientalle geure koeldrank wat in Coca-Cola se laboratorium ontwikkel is. P soek na Cream Soda, want hy weet dis V se gunstelinggeur en hy wil haar graag wys dat sy moes saamgekom het, maar al wat daar is, is rooi (!!) Cream Soda en P sien onmiddellik af van daardie plan. Uitgeput kom ons by die hotel aan en rus so ‘n bietjie, want Maja het vir ons kaartjies gekoop om vanaand na die Cirque du Soleil se vertoning Luzia te gaan kyk.
Om ‘n vertoning van Cirque du Soleil te sien, is al 23 jaar lank ‘n droom van my en toe word die droom bewaarheid. Herinneringe aan my kinderjare, toe my pappie ons gereeld sirkus toe geneem het, maak die ervaring bittersoet. Daar is ‘n rêrige orkes en ‘n sangeres met ‘n goddelike mooi stem. Die akrobate is asemrowend en die narre is gesofistikeerd snaaks. Op ‘n stadium stap ‘n groot jaguar oor die sirkel – maar dit is ‘n robot, nie ‘n werklike dier nie. Dit is ‘n aangrypende oomblik, ‘n huldeblyk aan al die vergange sirkusdiere wat – soms onder haglike omstandighede – die mense moes vermaak.
Sondagoggend vat V ons na ‘n koffiekroegie toe wat sy die vorige dag op haar eie ontdek het, waar Honey ook welkom is. Ons eet heerlike soetgebak vir ontbyt, gaan stap dan vir oulaas deur die stadstrate voordat ons die terugtog na Greenwood toe moet aanpak. Ons stap verby die herehuis wat P vroeër op ‘n stappie met Honey ontdek het, destyds in woonstelle verdeel, waar Margaret Mitchell haar onvergeetlike roman “Gone with the Wind” geskryf het.


Die strate is stil en ‘n liedjie uit my “Sturm und Drang”-jare dwaal in my kop.
Maar die wroeging van alleenwees is vanoggend ver van my af, want ek is deel van “ons” in Atlanta.






