Exporters From Japan
Wholesale exporters from Japan   Company Established 1983
CARVIEW
Select Language

My soektog het geen resultate gelewer nie, so ek het my benadering verander. Ek het opgehou bid: dit het duidelik geen impak gehad op enigiets nie. My Bybel het vir ‘n jaar of twee op die rak gesit.

Stilweg het ek begin wonder of God dan regtig bestaan. Dit het vir my gelyk asof alles meer sin sou maak as dit die geval is. Stilweg het ek begin lees wat ateïste daaroor te sê het. Ek het gesoek na debatte met apologete, na gelowiges se getuienis oor hoekom hulle glo. Ek het gelees oor die tekste van die Bybel, oor die geskiedkundige konteks van die skif, oor die ander godsdienste wat deur die eeue heen bestaan het.

Dit was soos om die fokus op jou kamera te verstel, en skielik kan jy duidelik sien waarna jy kyk. Daar was ‘n impuls om bang te voel (ek wil tog nie vir God kwaad maak met my vrae nie), maar die vrees kon nie regtig vlamvat nie.

Teen hierdie tyd het ek begin gewoond raak daaraan om oor God te dink as ‘n “as”, eerder as ‘n “is”.

As God sou bestaan, maak dit geen verskil aan die feit dat ek vrae het nie.  Of ek dit navors of nie, die onsekerheid is daar in my verstand.  Selfs al sou ek voorgee dat ek nie wonder nie, sou God tog dit weet, so wat sou dit help?
En as God nie bestaan nie, dan kan hy my nie straf vir my ongeloof nie.  Dan moet ek self uitwerk hoe ek moet lewe.  Dan is daar nie skatte in die hemel nie.  Dan moet ek besluit watter impak ek hier op aarde wil hê.

Soms sê gelowiges dat ateïste bloot lui is.  Dat ons nie die moeite wil doen om God te dien nie. Dat ons nie die moeite wil doen om onsself van sonde te weerhou nie.  Ek kan nie namens ander mense praat nie, maar in my geval is dit duidelik meer werk om sonder die idee van God te leef.  Ek is vir myself verantwoordelik.  Dit is ek wat ongelukkig is daarooor as ek my tyd mors, of iemand seermaak, of minder doen as wat ek kan.  Dit is ek wat myself moet vergewe vir die dinge wat ek verkeerd doen.  Ek moet self besluit watter impak ek op my gemeenskap gaan hê.  Ek moet self besluit hoe ek my verhoudings met mense rondom my gaan handaaf.

So, nee, ek vrees nie God se oordeel nie.  Dit beteken natuurlik nie dat die proses van my apostase pynloos was nie.  Aan die begin was dit só pynlik dat ek met niemand daaroor gepraat het nie.  Ek was bang dat my familie my sou verwerp.  Dit het gevoel asof ek skielik aan die ander kant van ‘n diep donga was, verwyder van die gemeenskap waarin ek grootgeword het.  Ek wou nie eens met my ateïstiese liberale vriende daaroor praat nie, want ek was verleë daaroor dat dit my so lank gevat het.  Ek was verleë oor ek voorheen my geloof so flouwegs verdedig het.  Dit alles het my eensaam laat voel.  Ek het nie na God verlang nie.  Ek was nie vir hom kwaad nie.  Ek het lankal nie meer aan hom gedink as ‘n wese nie.

Ek is bly dat ek gesoek het.  Ek is bly vir wat ek gevind het.  Daar is spyt dat ek nie vroeër wakker geword het nie, maar daaraan kan ek nou niks doen nie, en ek leer nog hoe om myself te vergewe.  Al wat ek nou kan doen is om vir ander mense in ‘n soortgelyke posisie te sê: Dit is okay om te twyfel.  Dit is okay om nie te glo nie.  Dit is okay om dit te sê.
]]> https://apostaat.wordpress.com/2017/04/23/soek-en-jy-sal-uitvind/feed/ 3 2194 focus apostaat Iets eerder as niets https://apostaat.wordpress.com/2017/03/31/iets-eerder-as-niets/ https://apostaat.wordpress.com/2017/03/31/iets-eerder-as-niets/#comments Fri, 31 Mar 2017 06:42:51 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=2088 Lees meer Iets eerder as niets]]> Geen apologetiek, lyk dit my, vat lank om by dié vraag uit te kom nie: “Hoekom is daar iets, eerder as niks?”

Dit is ‘n goeie vraag.  Die antwoord is nie onmiddelik sigbaar nie.  Selfs al verstaan jy fisika en kosmologie genoeg om sommige van die implikasies van die Oerknal te kan begryp, kan jy nie veel verder kom as dit nie.  Ons weet bloot nie wat, indien enigiets, bestaan het voor die Oerknal nie.

Dit is frustrerend, nè?  Dit is frustrerend om ‘n vraag te vra sonder dat jy by ‘n antwoord kan uitkom.  Veral deesdae, wanneer jy binne sekondes enigiets kan Google en antwoorde kan vind.  Die werklikheid is natuurlik dat daar nog altyd vrae was wat mense nie kon beantwoord nie.  Daar was ‘n tyd toe mense nie geweet het hoekom die son opkom en ondergaan, of hoekom die maan die getye veroorsaak nie.  Deesdae kan ons met ‘n redelike vertroue sê dat ons wel weet, maar voordat swaartekrag voldoende as ‘n teorie geformuleer was, was daar sekerlik mense wat sou voorhou dat Helios die son oor die hemelruim uit sy strydwa aanjaag, of dat Rona die seegodin verantwoordelik vir die getye, deur die maan ontvoer is.  Hulle sou dit dalk bloot as ‘n storie vertel, of hulle sou dalk ten volle oortuig gewees het dat hulle werklik die vraag korrek verduidelik.

Ons het nou die voordeel dat ons kan sien dat dit nie die waarheid is nie, selfs al het die stories steeds vir ons betekenis.

Wanneer gelowiges vir my vra: “Hoekom is daar iets, eerder as niks?” dan antwoord ek: “Ek weet nie.”  Dit is die enigste eerlike antwoord wat ek kan gee.  En dan wonder ek, hoe kan enigiemand weet? Oor watter inligting beskik hierdie persoon wat ek nie het nie?

Op hierdie stadium kan ‘n apologeet soms heel opgewonde raak.  Hulle noem dit Leibniz’s Contingency Argument en Reasonable Faith se video oor die onderwerp is aan die einde van die artikel beskikbaar.

Die argument lyk so:

Leibniz Contingenccy

Oftewel só:

lebniz 2

Die eerste stelling behels klaar die aanname dat alles wat bestaan ‘n verduideliking het.  Wat is ‘n verduideliking?  Die vraag van of iets geld as ‘n verduideliking of nie, hang af van die persoon aan wie die verduideliking gerig is.  As jy iets vir ‘n jong kind verduidelik, som jy bredeliks op, en sluit slegs die hooftrekke in.  As jy iets vir ‘n saal vol studente verduidelik, moet jy gereed wees om detail te bespreek, afhangende van die vak en in sekere omstandighede tot die punt waar geen mens méér weet oor die saak nie.

Verduidelikings loop altyd eindelik dood.  Bly vra wat iets voorafgegaan het, en jy kom by die Oerknal uit.  Jy kan nie anders nie.  En as jy daar kom, en vra: “Wat het die Oerknal veroorsaak?” dan kan jy doen wat Leibniz doen, en sê ons noem die oorsaak van die Oerknal God.

Nou is die vraag: wat kan ons van God weet?

Kan ons weet of God in hierdie sin ‘n wese is, wat dink en emosies ervaar en pyn verstaan?  Wat omtrent die feite oor die heelal sê vir ons dat daar ‘n wese betrokke is, iemand wat ‘n bedoeling het met wat hy doen?  Ek dink nie ons kan dit sê gebaseer op wat ons weet oor die heelal nie.

Wat help dit dan om die oorsaak van die heelal “God” te noem?  Wat beteken dit?  Jy kan netsowel sê “God is iets wat heelalle veroorsaak.  Die heelal bestaan, so moes veroorsaak gewees het.  Dus, die oorsaak van die heelal is God.”

Geen deel van die “argument” demonstreer dat daar agentskap betrokke was by die proses nie.  Sonder ‘n aanduiding dat daar ‘n bedoeling was, ‘n intensie, ‘n daad, kan ons nie weet of die oorsaak van die heelal ‘n wese is nie.

Al wat Leibniz sê is jy kan iets wat jy nie verstaan nie, ‘n naam gee.

Die lys eienskappe van God wat hier genoem word, is ook gebaseer op aannames en ‘n onvermoë om die feite te verduidelik.  Sodra ons vir mekaar begin stories vertel in plaas daarvan om na die beskikbare bewyse te kyk, dan is ons besig met mitologie, nie wetenskap nie.

Screenshot (160)

 

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2017/03/31/iets-eerder-as-niets/feed/ 1 2088 leibniz apostaat Leibniz Contingenccy lebniz 2 Screenshot (160)
Vryheid en spraak https://apostaat.wordpress.com/2017/03/25/vryheid-en-spraak/ https://apostaat.wordpress.com/2017/03/25/vryheid-en-spraak/#comments Sat, 25 Mar 2017 10:09:10 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=2070 Lees meer Vryheid en spraak]]> Moet nou liewer nie vra hoe ek by die video uitgekom het nie, maar ek beland onlangs in ‘n gesprek in die YouTube kommentaar, en kom daar ‘n interessante idee teë:

Hier in Australie word geloof beskou as iets om voor skaam te wees en meeste gelowige mense (wat in die minderheid is) steek dit weg en praat nie daaroor nie. Jy, wat jouself as ‘n Ateis beskou sal van die aspek hou.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek is ten gunste daarvan dat mense praat oor hulle oortuigings. Ek is ten gunste daarvan dat die staat mense toelaat om te doen wat hulle wil solank hulle niemand anders skade aandoen nie.

Ek is ten gunste van vryheid van spraak.  Ek is ten gunste daarvan dat ons mekaar se idees mag ondersoek, bevraagteken en selfs aanval.  Om ‘n idee met ‘n idee aan te val is die kern van vryheid van spraak.

Die gelowiges in Australië is vry om oor hulle geloof te praat.  As hulle kies om dit nie te doen nie, het hulle seker rede daarvoor.

Insoveel ek “van die aspek hou”, is dit omdat dit ‘n aanduiding is dat ten minste sommige van die gelowiges stilbly omdat hulle nie bereid is om ‘n gesprek te voer nie.  As hulle nie bereid is om ‘n gesprek te voer nie, is dit reeds vir my ‘n verligting omdat só ‘n persoon nie aktief probeer om mense soos vis te vang nie.

Dit voel dalk vir hulle soos onderdrukking.  Daar is gelowiges wat ‘n vervolgingskompleks het.  Wat godsdiensvryheid vir hulle eie groep wil hê, maar dit nie vir ander gun nie.

Hierdie mense dink dat hulle uitsprake oor geloof, hulle gedrag i.t.v godsdiens en hulle idees oor die wêreld nie mag bevraagteken word nie.  Iemand wat só dink vertel miskien vir homself “ek sou oor my geloof getuig, maar die wêreld is teen my”.  Hy weet dat, as hy iets sou sê, mense sy woorde sou kritiseer, sy idees aanval en sy geloof beledig.  Hulle het net soveel reg om dít te doen, as wat hy het om oor sy godsdiens te praat.  As hulle kritiek genoeg is om hom stil te hou, is dit dalk omdat hy weet hy kan nie sy bewerings staaf nie.

Hoekom hou ek hiervan?  Want solank iemand sy ongegronde idees vir homself hou, is hy nie besig om dit na ander toe te versprei nie.  Ek sou eerder mense help om hulle geloof te laat vaar, maar ek is bereid om gelowiges se stilte as vordering beskou.

Ek stel belang daarin om by te dra tot positiewe sosiale veranderinge.  Dit is my opinie dat die samelewing beter af is as mense vry is om mekaar se idees te bestudeer.  As ons gewoond is daaraan dat ons gemeenskap ons daarop wys as ons bewerings maak sonder dat ons kan demonstreer dat wat ons sê waar is, sal ons almal meer verantwoordelik te werk gaan.

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2017/03/25/vryheid-en-spraak/feed/ 1 2070 aust f apostaat
Om te maak of jy glo https://apostaat.wordpress.com/2017/03/15/om-te-maak-of-jy-glo/ https://apostaat.wordpress.com/2017/03/15/om-te-maak-of-jy-glo/#comments Wed, 15 Mar 2017 01:07:07 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1135 Lees meer Om te maak of jy glo]]> In retrospek voel ek ‘n versoeking om te dink dat ek al daardie jare in die kerk bloot gemaak het of ek glo.  Ek dink nie dit is waar nie.  Miskien was ek nie heeltemal gemaklik met die idees nie, maar daar was ‘n opregte oortuiging dat dit “korrek” was om ‘n Christen te wees.  Dit was nie die geval dat ek vermoed het dit is alles onwaar nie.  Ek kon dit nie verstaan nie, en na ‘n paar mislukte pogings om dit wel te verstaan het ek begin stilbly om myself die verleentheid te spaar.

Dit is anders wanneer jy eers mooi daaroor gedink het.  Iemand wat opreg oor godsdiens dink sal óf genoeg rede vind om te glo, of min genoeg om te weet hy glo nié.  Ek dink nie ek het nodig om te verduidelik aan watter kant van die lyn ek is nie.  Nou is daar net een eerlike ding wat ek kan doen.  Hier praat ek.  Ek kan nie anders nie.

As ek sou stilbly hieroor, sou die mense rondom my steeds maklik aanneem dat ek ‘n Christen is.  Wanneer ateïste stilbly, lyk dit asof daar heelwat meer gelowiges in die wêreld is.  Dit is veral waar in ‘n gemeenskap waarin godsdiens ‘n groot rol speel, soos wat die geval is in die meeste Afrikaanssprekende gemeenskappe.

Die opinie dat geloof in die bonatuurlike en godsdiens skadelik vir die samelewing is, is een wat nie dikwels in Afrikaans uitgedruk word nie.  Hierdie blog is my bydrae.  Ek besef dat ek mense omkrap, maar ek dink dit is belangrik genoeg om dit die moeite werd te maak.  Solank ons as ‘n gemeenskap bereid is om die wêreld te interpreteer volgens hierdie of daardie idee oor iets wat nie kan bewys word nie, volg ons ‘n padkaart wat ons nooit by die waarheid kan bring nie.

Dit maak die pad oop vir dwaalleiers, vir swendelaars, vir opportuniste.  Vir doomsdayers se tragiese berusting, vir ekstremiste se geweld. Vir meerderwaardigheid, en regteskendings.

Noudat ek dít weet, is my stilte nie meer verskoonbaar nie.  Ek maak nie meer die aanname dat ander mense noodwendig beter as ek kan verstaan nie.   Dit is moontlik om sommige dinge met ‘n redelike sekerheid te weet.  Dit is moontlik vir miljoene mense, baie van hulle hoogs intelligent en selfs geleerd, om vals geloofsoortuigings te hê.

Nou dat ek weet wat my stilte beteken, kan ek nie met ‘n goeie gewete anders as om hieroor te praat nie.  Ek hoop ek kan ‘n rol speel in ander se soektog na die waarheid.  Elke keer wat ek vra “hoe weet jy dit is waar?” wanneer iemand ‘n bewering maak oor ‘n god, sien daardie persoon dat nie almal oortuig is nie.  Iemand wat dít hoor, en self nog moet besluit watter kant van die glo-lyn hy gaan wees, sal dan darem ook weet daar is geselskap aan die ongelowige kant.

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2017/03/15/om-te-maak-of-jy-glo/feed/ 1 1135 Mic f apostaat
‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid https://apostaat.wordpress.com/2016/12/19/n-verligting-en-n-verantwoordelikheid/ https://apostaat.wordpress.com/2016/12/19/n-verligting-en-n-verantwoordelikheid/#comments Mon, 19 Dec 2016 00:14:52 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1235 Lees meer ‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid]]> As iemand my jonger self sou vra – en niemand het ooit nie – of ek dink homoseksualiteit is aanvaarbaar, sou ek ‘n vae anti-gay stans ingeneem het op grond van my geloof.  Ek het egter hierdie soort situasie vermy omdat ek nie ‘n rede kon gee nie.  Ek sou nie probeer sê die Bybel verbied dit nie, want ek het goed geweet dat ek nie ‘n enkele opvolgvraag sou kon antwoord nie.  Nee, ons stenig nie mense nie.  Nee, ons hou nie slawe nie.  Nee, menstuerende vrouens is nie onrein nie.

Wat was die eintlike rede vir die opinie wat ek gehad het?  Die waarheid is: die gedagte aan selfdegeslagseks het my ongemaklik gemaak.  Die idee van selfdegelsag romantiese verbindings was vir my totaal vreemd.  Dit het bloot nie vir my sin gemaak nie.  Ek kon dit nie verstaan nie, en ek het gedink dít beteken dat dit verkeerd is.

Ek kry skaam as ek nou daaroor dink. Dit was eers toe ek as ‘n student gay mense leer ken het wat dit moontlik was vir my om my vooroordeel geleidelik te laat gaan.  Daar was geen dramatiese konfrontasie waar iemand my reggesê het nie.  Ek het miskien aan die begin gemaak asof ek nie homofobies was nie, maar mettertyd was ek bewus daarvan dat ‘n gewig van my gemoed af lig.  Dit is hoe dit voel om jou vooroordeel neer te sit.

My houding teenoor gay mense het verander omdat ek gesien het dit was verkeerd en skadelik.  As ‘n mens eers só iets weet, is dit onmoontlik om dit nié te weet nie.  En as jy eers weet iets is skadelik, dan moet jy besluit of jy dit gaan doen of nie.  Jy moet kies of jy pyn gaan veroorsaak of vererger.  Hierdie soort insig is beide ‘n verligting en ‘n verantwoordelikheid.

Die rede hoekom ek hierdie blog skryf is omdat ek ‘n soortgelyke ervaring oor God gehad het.  Ek het meer en meer vrae gehad, en meer en meer gesoek na antwoorde, en hoe verder ek gesoek het, hoe duideliker was dit vir my dat ek geen goeie redes het om in God te glo nie.

Ek het vir ‘n rukkie ‘n leemte gevoel.  Dit was vir my swaar om te dink dat ek die mense om my sou seermaak as ek myself tot ateïs verklaar.  Ek het ‘n soort vrede gevoel oor my verlede in die godsdiens.  Ek was nie kwaad nie.  Ek het nie gedink oor hoeveel van my tyd vals belê is, of oor hoe anders my verstand sou kon uitdraai as ek sonder die kerk grootgeword het, of oor al die geleenthede wat my verbygegaan het weens arbitrêre reëls wat ek nie eens verstaan het nie.  Vir ‘n rukkie was my grootste vrees dat ek sou moeilikheid maak in my familie.

Geleidelik het dit egter vir my duidelik geword dat geloof in die bonatuurlike skadelik is, en dit was die rede hoekom ek uit die kas geklim het.  Dit is ook die rede vir hierdie blog.  Die oomblik wat ek dit behoorlik besef het, het dit vir my onmoontlik geword om stil te bly.  Ek doen dit nie ligtelik nie, en ek verstaan baie goed dat ek mense omkrap.

Enigiemand wat dink dat ek onredelik is, is welkom om my te kontak of om kommentaar te lewer.  Ek wil verstaan hoekom mense wat van my verskil, dink soos hulle dink.  As ek verkeerd is wil ek dit uitvind.  As ek verkeerd is dan wil ek dit weet sodat ek met die waarheid kan leef sover dit vir my moontlik is.

Die huidige debat in die NG Kerk sal soortgelyke reise vir ander mense moontlik maak.  Dít beteken dis ‘n postiewe stap of die besluit staan of nie.  Die kerk sal óf gay mense soos mense begin behandel óf die kerk sal lidmate verloor.  As daar ‘n skeuring is, is dit steeds goeie nuus vir sommige gemeentes, en die proses daarvan om te besluit watter kant toe hulle wil gaan sal ‘n waardevolle geleentheid wees vir Christene om oor hulle geloof te dink, te praat en te debateer.

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2016/12/19/n-verligting-en-n-verantwoordelikheid/feed/ 6 1235 dandelion-f apostaat
Seks en die Bybel https://apostaat.wordpress.com/2016/12/07/seks-en-die-bybel/ https://apostaat.wordpress.com/2016/12/07/seks-en-die-bybel/#comments Wed, 07 Dec 2016 07:46:15 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1743 Lees meer Seks en die Bybel]]> Die sogenaamde “gay-debat” by die NG-Kerk se sinode moedig mense aan om oor moraliteit en seksualiteit te dink, en dit het ook daardie effek op my.  Tinus van Zyl skryf in die Kerkbode oor wat presies dit is wat ‘n daad sonde maak.  Hy skryf dat seks binne die huwelik “sonde kan wees – as ‘n man sy vrou verkrag”.

Dié gedagte krap aan my.  Watter van die gebooie verbreek die man dan?  ‘n Vrou moet dan onderdanig wees.  ‘n Vrou gaan dan van een meester na ‘n ander wanneer sy uit haar pa se huis na haar man sin toe trek.  ‘n Vrou is tog skuldig aan haar eie verkragting as sy nie hard genoeg om hulp roep nie.

Dit is nie genoeg vir ‘n vrou om vir ‘n man “nee” te sê nie.  Sy moet seker maak iemand ander hoor haar, anders is sy net so skuldig soos hy.  En hy word slegs gestraf as sy reeds getroud is.  ‘n Man wat ‘n ongetroude vrou verkrag moet met haar trou en kan nie van haar skei nie.

Ek kan reeds die sug hoor, die een wat sê “maar dis die Ou Testament!”  So asof Jesus ooit iets oor die saak te sê gehad het.  So asof ons almal weet die karakters was nie regte mense nie.  Miskien was hulle nie, maar daar was regte mense, mense met presies dieselfde vermoëns en gevoelens as ons. Daar was generasies mense wat onder hierdie soort barbaarse wette geleef het.  Nou vra ek jou, watter soort god skryf sulke reëls?

Ek weet watter soort mense sulke reëls maak:  Primitiewe mense in die bronstydperk wat nog nie ‘n gesofistikeerde etiek het nie.  Hoe het die Hebreërs dit reggekry om met goddelike inspirasie en al geen beter wette as die heidene rondom hulle skryf nie?

Nee, daar is nie ‘n gebod teen verkragting nie.  Die Bybel noem nooit ‘n verkragting wat binne ‘n huwelik plaasvind nie, want die skrywers van die Bybel sou nie dink dit is enigiemand se besigheid nie.  Ek is bly dat hierdie soort geweld deesdae onwettig is.  Tog moet ons nie te gou vergeet nie: Suid-Afrika het verkragting binne die huwelik eers in 1993 ‘n misdaad gemaak.  Na milennia van godsdiens was dit die 20ste eeuse sosiale ontwikkelings wat ons daarby kon bring.  Kon God nie maar dit ook vir die mense gesê het toe hy nog met ons gepraat het nie?

Kon die godsdienstige filosowe nie daarby uitgekom het nie?  Teen die derde eeu of so het hulle tog al die hele Skrif gehad om mee te werk.  Al die woorde van God, in hulle stowwerige kloosters.  Hoe het hulle nie daarby uitgekom dat mense regte het nie?  Hoe het elke sinode van 1660 tot 1985  die Versamelde Werke van die Skepper van die Heelal gelees en tot die slotsom gekom dat rassisme goed en reg in die oë van die Here is?

Hoe?  Miskien het hulle oor Dina gelees.  Onthou jy vir Dina?  Jakob se dogter, ontvoer en verkrag deur ‘n Kanaäniet wat so verlief is dat hy met haar wil trou.  Sigem bied vir Jakob en sy seuns enige vergoeding wat hulle wil eis, en hulle stem in om vrede te maak mits die Kanaäniete besny word sodat hulle soos die Hebreërs kan word.  Terwyl hulle nog seer is, val Jakob se seuns hulle aan, vermoor die mans en steel alles – insluitende die vrouens en kinders.  So lees ons aan die einde van ‘n lys besittings.

Wat leer dié verhaal vir ons?  Ek het per ongeluk by die Jehova se Getuies se webblad geland, en hulle reken dit was alles Dina se skuld.  Sy moes tog nooit by die Kanaäniete gaan kuier het nie.  Hulle was duidelik nie God se kinders nie, en dit is waar dit alles skeefgeloop het.

Die meeste dominees sal seker nie maklik só ver gaan nie, maar wat ís dit dan?  Is die punt dat Dina se verkragting verkeerd was?  Dit is moeilik om só daaraan te dink as ‘n hele stad se vrouens later verslaaf word, en hulle kinders ook.

Miskien is die les iets oor heiligheid.  Een van Dina se broers is Levi, die stamvader van die priesterklas, en hier gebruik hy Israel se heiligste tradisie, die besnydenis, om mense te uitoorlê.  Sodat ‘n disproporsionele straf op ‘n hele stad uitgevoer kan raak.  Sodat Jakob se seuns hulleself kan verryk. As daar hier ‘n les oor heiligheid is, sou ek nie vir jou kon sê wat dit is nie.

Tinus van Zyl skryf so mooi dat “wanneer seksuele gemeenskap plaasvind binne ‘n konteks van liefde en trou, en wanneer daardie twee persone hulle sekualiteit aanwend om mekaar op te bou, te geniet, te waardeer, te vertroetel, te troos en te koester, met wedersydse respek, sensitiwiteit en deernis, dan is dit nie sonde nie, maar wel Goddelike liefde.”

Waar kom hy aan al dié idees?  Die Bybel het heeltemal niks te sê oor instemming tot seks nie.  Ons vind nooit eens uit hoe Dina gevoel het nie.  Ons weet nie wat sy te sê gehad het nie, want geen aksie word aan haar toegeskryf behalwe die besoek aan die Kanaäniete nie.  Die Bybel leer ons dat die regte reaksie op verkragting is vir mans om oorlog te maak.

Daar is wel een voorbeeld van wat ‘n slagoffer se ervaring is.  Dawid se seun Amnon gee voor dat hy siek is sodat hy daarop kan aandring dat sy suster, Tamar, na hom moet omsien.  Hy is verlief op haar – sê die Bybel – en hy maak seker dat hulle alleen is voor hy haar gryp.  Sy pleit by hom om haar nie te “onteer” nie, sy wil nie die “skande” daarvan dra nie.

Tamar sê Amnon moet die koning se toestemming vra dat hulle kan trou, sodat dit nie so skandelik moet wees nie.

Na die verkragting rou Tamar in die openbaar – sy skeur haar klere, sit stof op haar kop en skreeu.  Al wat ons verder van haar weet is dat sy ‘n “wrak” is, en die storie gaan verder oor Dawid en Absalom.

Dít is wat die Bybel te sê het oor verkragting: dat ‘n vrou nie kan “ja” sê vir seks nie, want dit is haar pa wat haar vir haar man gee, en dat ‘n vrou nie kan “nee” sê vir seks nie, want sy is “onteer” selfs al het sy haar teëgesit.

Solank dit ‘n vereiste is dat ‘n vrou moet onderdanig wees teenoor haar man, is dit sonde vir haar om “nee” te sê.  So, terwyl ek met Tinus van Zyl saamstem dat verkragting binne die huwelik verkeerd is, kan ek nie saamstem dat dit sonde is nie.

Die feit dat die onderskeiding tussen “sonde” en “nie sonde” nie op dieselfde plek sit as die onderskeiding tussen “moreel” en “immoreel” nie, is ook verder duidelik in Van Zyl se artikel.  Op die ou end sê hy gay huwelike moet toegelaat word sodat gay lidmate nie in die versoeking moet kom om “losbandig” te wees nie.  Die implikasie dat dit slegs moontlik is om in ‘n vaste verhouding te wees as ‘n paartjie getroud is, is beide belaglik en beledigend teenoor so baie mense wat jare of dekades lank al saam is.  Dit is egter in sy punt dat die sinode tog niks moet doen wat “die deur sal oopmaak vir seksuele promiskuiteit” nie, wat my sommer laat warmkry.  Want, al demonstreer hy dat die Bybel verkeerd was oor vroueregte, en al voer hy hier aan dat die Bybel ook verkeerd is oor gay-regte, is hy doodgelukkig om steeds te aanvaar dat “gesonde seksualiteit” slegs binne die huwelik kan bestaan.

Daar is geen rede om te dink dit is waar nie.  Gesonde seks is enige seks waar die betrokke partye vryelik instem, deelneem en mekaar met respek behandel.  Dit is moontlik in ‘n gesonde kultuur, waar instemming die belangrikste kwessie is, en ons elkeen vir ons eie dade verantwoordelik is.  Barbaarse gebruike soos om ‘n slagoffer vir haar verkragting te blameer of mense te veroordeel oor hulle seks het op ‘n manier wat jou nie aanstaan nie, het geen plek in die moderne samelewing nie.  Hoekom steur ons dan ons nog aan die Bybel?  Hoekom steur ons dan ons nog aan die sinode?

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2016/12/07/seks-en-die-bybel/feed/ 5 1743 heart-f apostaat
‘n Mitiese Jesus? https://apostaat.wordpress.com/2016/11/10/n-mitiese-jesus/ https://apostaat.wordpress.com/2016/11/10/n-mitiese-jesus/#comments Thu, 10 Nov 2016 07:43:23 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1706 Lees meer ‘n Mitiese Jesus?]]> Ek gesels so ‘n rukkie terug met ‘n vriend van my en vertel hom oor Richard Carrier se werk, spesifiek sy boek On the Historicity of Jesus, wat ek toe onlangs klaargelees het.  Carrier is ‘n antieke historikus wat na sy doktorsgraad van crowdfunding gebruik gemaak het om oor navorsingsmetodes en die geskiedenis van die begin van die Christengeloof te skryf.

Sy ondersoek van die bewyse vir ‘n historiese Jesus is ‘n fassinerende blik op ‘n storie wat ‘n mens maklik dink jy reeds ken.  Ek vertel vir my vriend van die mitiese Jesus wat aan sy volgelinge verskyn as ‘n visioen, oor hulle boodskap aan mekaar dat die redding gebeur het en al wat hulle moet doen is om dit te glo.  Ek vertel hom hoe skraal die bewyse is, hoe min feite daar is.  Ek vertel hom oor Paulus se briewe en die manier hoe hy Jesus beskryf.  En die evangelies, die datums, die aannames.

“Hoekom is jy so opgewonde?” vra hy my.

Dit is oor ek dink dis interessant, wil ek sê, maar ek antwoord nie.  Hy het effens die wind uit my seile geneem.

“Is dit oor jy vir Christene kan sê ‘het jou, katvis’?”

Nee, sê ek.  Dit het nie eens regtig by my opgekom nie.  Ek sal tog nie Christene oortuig sommer net so nie.  Ek self dink dit is die moeite werd om verder navorsing te doen, maar ek sou nie sê ek is oortuig nie.  Ek dink maar net dat die Carrier – en ander, bv. Robert Price en David Fitzgerald – dalk ‘n punt beet het.

Nee, ek verbeel my nie ek gaan Christene hiermee uitvang nie.  Ek is opgewonde want ek besef dit is moontlik dat die heel eerste Christene, die apostels self, op presies dieselfde manier geglo het as hedendaagse Christene.  Dat hulle moontlik niks meer as subjektiewe ervarings en vloeibare teologie gehad het om hulle te oortuig nie.  Dat dit maar van die begin af ‘n stryery was omdat daar geen werklike gebeure was nie.  Dat die kruisiging en opstanding nog altyd ‘n storie was wat Christene vir mekaar vertel, oor iets wat gebeur in ‘n tyd en ‘n plek wat hulle nie self kan beleef nie.

Ek sê nie ek weet nie.  Ek weet nie of daar ooit ‘n historiese Jesus was nie.  Maar dit lyk asof dit moontlik is dat hy as ‘n mite begin het, en ek vind dit baie interessant.

screenshot-145

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2016/11/10/n-mitiese-jesus/feed/ 4 1706 stained-glass-f apostaat screenshot-145
Oor waarneming en logika https://apostaat.wordpress.com/2016/11/09/oor-waarneming-en-logika/ https://apostaat.wordpress.com/2016/11/09/oor-waarneming-en-logika/#comments Wed, 09 Nov 2016 00:03:01 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1712 Lees meer Oor waarneming en logika]]> “God is nêrens waarneembaar nie” het ek geskryf en Udo antwoord:

Ek neem aan dat Apostaat bedoel dat God nêrens empiries waarneembaar is nie. Ja, God is nie ʼn fisiese entiteit wat met die sintuie waargeneem of deur die wetenskaplike metodologie ondersoek kan word nie. My oortuiging dat God bestaan en wat my in staat stel om Hom ook te beleef, is egter nie gebaseer of afhanklik van empiriese feite nie. Die vorming van my oortuiging dat God bestaan lê op dieselfde vlak as my oortuiging van estetiese, morele en logiese waarhede en wat met empiriese verifiëring niks te doen het nie.

Hier verskil ek met Udo: Estetiese, morele en logiese waarhede het baie te doen met empirise verifiëring. Wat ons weet oor mekaar en oor die wêreld is die resultaat van waarneming en eksperimentasie.  Ons neem mense waar sodat ons kan bepaal of ons hulle kan vertrou.  Ons bestudeer die wêreld en leer hoe goed in mekaar steek.  Ons pas toe wat ons geleer het en vind uit of ons reg was oor wat ons gedink het.  Ons pas ons idees van logika aan wanneer ons nuwe inligting teëkom.

Ja, logika gebeur in jou verstand, maar dit beteken nie dit het niks te doen met wat jy kan waarneem nie.

Ek kan ‘n soortgelyke argument maak vir moraliteit: As jy iets as pynlik ervaar – wat ‘n empiriese observasie is – en jy gebruik logika en jou verworwe kennis oor die wêreld kan jy verstaan dat ander mense dit ook as pynlik sou ervaar.  Empatie gebeur in jou verstand, maar dit is gebaseer op ervarings en kennis, en dit vorm die basis vir moraliteit.

En wat van estetika?  Waar kom die wonderlike gevoel vandaan as iets mooi of lekker is?  Dit is tog meer as bloot ‘n sensasie.  En tog begin dit met ‘n sensasie: kleure op ‘n skilderdoek, klanke in die lug.  In jou verstand meng daardie sensasie met wat jy weet oor die wêreld, en dit kleur die ervaring in met lae van betekenis, die kenmerk van ‘n diepgaande estetiese ervaring.

Udo erken self dat sy oortuiging dat God bestaan hom in staat stel om God te beleef.  Hy sê ook dat God nie empiries waargeneem kan word nie.  Wat ek nie verstaan nie, is sy bewering dat die oortuiging gevorm is op dieselfde manier as oortuigings oor logika en moraliteit.  Logika en moraliteit is gebaseer op observasie en kennis.  Die oortuiging dat God bestaan is nie.

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2016/11/09/oor-waarneming-en-logika/feed/ 4 1712 observe apostaat
Om te dink jy weet https://apostaat.wordpress.com/2016/11/06/om-te-dink-jy-weet/ https://apostaat.wordpress.com/2016/11/06/om-te-dink-jy-weet/#comments Sun, 06 Nov 2016 00:18:40 +0000 https://apostaat.wordpress.com/?p=1690 Lees meer Om te dink jy weet]]> Na ek Sean Carroll se video “God is not a good theory” op Facebook gedeel het, het Udo van AntWoord ‘n stuk gepubliseer waarin hy sê dat die rede wat iemand het om iets te glo maak nie saak as die geloof waar is nie.  In sy eie woorde:

ʼn Mens noem dit ʼn oorsprongsvergissing (the genetic fallacy). Veronderstel my kamer is klankdig en die gordyne toegetrek. Ek kan die oortuiging hê dat dit buite reën, al het ek absoluut geen rede vir waarom die stelling “Dit reën buite” sou ooreenstem met wat werklik die geval is nie, en tog kan dit steeds die geval wees dat dit buite reën. Of ek kan tot die oortuiging kom dat dit buite reën omdat die koekoekhorlosie teen my kamermuur twaalfuur slaan, en ook in hierdie geval kan dit die geval wees dat dit buite reën. Die gronde vir my oortuiging dat dit buite reën is dus nie rasioneel nie, maar sulke nie-rasionaliteit in hoe my oortuiging gevorm het, maak die werklikheid waarop die oortuiging dui (dat dit buite reën) nie opsigself vals nie.

Ek stem natuurlik nie saam met Udo nie.  Ek het nooit beweer dat ‘n irrasionele rede vir ‘n oortuiging beteken dat dit vals is nie.  My standpunt is dat jy nie iets weet as jy ‘n foutiewe epistemologie gebruik om daarby uit te kom nie.

Udo vra toe:

Spesifiek waar en hoe ondermyn [Sean Carroll] die idee dat God die beste verduideliking is vir bepaalde aspekte van die heelal?

Carroll se punt – en ek stem met hom saam – is dat God nêrens waarneembaar is nie.  Dit is iets wat jy slegs kan weet as jy bereid is om na die waarheid te soek.  As jy in daardie klankdigte vertrek is, met die gordyne toe, en ek vra jou, “Reën dit buite?” en jy sê, “Ja.  Die koekoekhorlosie sê vir my dit reën buite” dan is jy oneerlik.

Want jy weet nie of dit buite reën nie.  En jy weet nie of die koekoekhorlosie reg is nie.  En jy weet nie of die horlosie regtig met jou praat of jy jou bloot verbeel nie.

God is nêrens waarneembaar nie.  Voordat jy hom kan beleef is daar altyd die vereiste dat jy moet glo hy is daar.  Daar is altyd die vereiste dat jy die koekoekhorlosie moet vertrou en dat jy moet weier om die gordyn oop te trek.

screenshot-144

Dit is nie ‘n opsie vir iemand wat die waarheid soek nie.  Dit is nie eerlik om aan jou vooropgestelde idees vas te klou as meer inligting beskikbaar is nie.

Ek weet dit is moeilik.  Dit is maklik om uit te vind of dit buite reën, maar veel moeiliker om uit te vind of daar goeie redes bestaan om in God te glo.  As jy in ‘n gemeenskap woon waar almal rondom jou sê hulle glo – en jy weet dat dit mense sal omkrap as jy hulle sou teëstaan – is die maklike uitweg om maar saam te speel.  Dit is maklik om te maak of jy glo.  Om die wêreld te verstaan vat werk.  Dit vat werk om te dink oor moraliteit en watter beginsels regtig vir jou belangrik is en hoe jy jou omgewing wil beïnvloed.  Dit vat werk om te dink oor hoe jy jou beperkte tyd op hierdie aarde gaan gebruik.  Dit is maklik om te maak asof jy glo dat dit in iemand anders se hande is.  Asof jy virewig ‘n kind is wat in sy pa se huis kan bly.

‘n Christen het my ‘n rukkie terug gevra: “Wat as jy verkeerd is?”

Nou vra ek dieselfde vraag vir enige Christen wat hierdie woorde lees:  Wat as jy verkeerd is?  Wat as die stem in jou kop wat jou gids en troos is, jý was?  Al daardie kere wat jy ‘n briljante ingewing gehad het, elke goeie idee, elke slim plan, elke grap, elke keer wat jy die regte ding sê om iemand anders te help, wat as dit jý was?

Jy is tog alreeds bewus daarvan dat al die foute, die vegissings, die slegte keuses, die vrot planne… jy weet tog dít was alles jy.  Wat as die goeie goed ook uit jou uit gekom het?

Party gelowiges raak skrikkerig wanneer hulle hieroor dink.  Hulle hou nie van die idee dat ons op ons eie is nie.  Hulle wil nie hê dat ons elkeen alleen in ons verstand moet wees nie.  En dan ignoreer hulle die feit dat die waarheid nie beïnvloed word deur wat mense wil hê nie.  Hulle kies om iets te glo omdat hulle wil hê dit moet waar wees, en vermy die verantwoordelikheid wat ons het as deel van die mensdom.  Elke mens met die vermoë om te dink het die verantwoordelikheid om te dink.  As jy hoegenaamd belangstel in die waarheid moet jy daarna soek.

Om te sê jy weet wanneer jy nie regtig weet nie, is ‘n leuen.

]]>
https://apostaat.wordpress.com/2016/11/06/om-te-dink-jy-weet/feed/ 3 1690 cuckoo-f apostaat screenshot-144